Wenbrief van die week: Gen Z nie dom nie, dink net anders

Gen Z is gebore tussen 1997 en 2012.
Gen Z is gebore tussen 1997 en 2012. Foto: Adobe stock.

In die eerste uitgawe van Die Papier (06.03) was ’n nuusberig oor ’n studie van Jared Cooney Horvath wat meld dat my generasie, dié gebore tussen 1997 en 2012, glo “die eerste generasie ooit is wat nie hul ouers in sekere kognitiewe vaardighede verbygesteek het nie”.

Ons is daarvolgens ’n dommer ras as ons voorgangers weens kunsmatige intelligensie (KI).

Tog is dieselfde gesê oor vorige tegnologiese spronge. Boomers het gesê TV maak kinders dom. Millennials is gekritiseer oor selfone. Nou gebeur dieselfde met Generasie Z (Gen Z) en KI.

Oukei Boomer, hierdie hoeveelheid tegnologie het nie Generasie Z dommer gemaak nie, maar eerder ’n generasie geskep wat gewoond is daaraan om vinnig by nuwe digitale hulpmiddels aan te pas en dit te gebruik om probleme op te los.

Gen Z is die eerste generasie wat volledig in ’n digitale omgewing grootgeword het, wat ons leer en denke beïnvloed. Dit sluit in hoe ons probleme oplos, hoe ons inligting ontvang en verwerk, asook hoe ons kreatiwiteit kan uitbeeld.

Die manier van dinge doen is al wat verander het. Ons ontvang die meeste van ons inligting aanlyn pleks daarvan om dit in ’n biblioteek te gaan soek. Ons lees nog steeds boeke en doen nog steeds navorsing.

Ek is al moeg om vir iemand te verduidelik wat ’n “Send”-knoppie doen.

Met elke nuwe generasie is daar vordering. Gen Z is net die volgende generasie wat die wêreld gaan verander.

  • Anushka van Loggerenberg, Germiston

Skryf aan:

lesers@diepapier.co.za

Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat elders verskyn het nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie