Die voortdurende uitstel van hoëprofiel-hofsake, veral teen politici en vermoëndes, het ’n krisisvlak bereik. Dit stuur ’n gevaarlike boodskap dat die rykes en politici bo die reg verhewe is, terwyl die publiek toenemend geloof in demokrasie verloor.
Vertragingstaktieke – dikwels gedryf deur die sogenaamde “Stalingrad-strategie” – is ooglopend in sake soos dié van oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule. Hul sake sloer al jare lank voort as gevolg van nimmereindigende appèlle en tegniese besware.
Daar is egter ’n dieperliggende probleem: Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is dikwels bloot nie goed genoeg voorberei of “mans genoeg” om hierdie sake betyds en kundig af te handel nie. Hul gebrek aan gespesialiseerde vaardighede gee skuldiges skuiwergate om die regstelsel te manipuleer.
Die uitwerking hiervan op die samelewing is verwoestend aangesien burgers nie meer glo dat geregtheid geskied nie; miljoene rande se belastinggeld vermors word op uitgerekte regskoste; en die indruk bestaan dat korrupsie nie regtig gevolge het nie. Onbekwame staatsaanklaers rek ook sake onnodig uit.
Daar moet dringend ingegryp word om die integriteit van die SA regstelsel te beskerm. Eerstens moet howe strenger optree teen moedswillige vertragingstaktieke deur regspanne en ernstig besin oor of en tot wanneer staatsgeld gebruik mag word om politici en amtenare daarmee te verdedig.
Landsburgers moenie glo ’n regstelsel bestaan vir dié met geld en een vir armes nie. Tweedens moet die NVG dringend versterk word met topvlak-, onafhanklike forensiese en regskundiges wat teen duur, private regspanne opgewasse is. Geregtigheid wat uitgestel word, bly immers geregtigheid wat ontken word. Daar is te veel hiervan, terwyl die regering te min doen om sake reg te stel.
Dit skep die indruk dat veral politici en rykes wel bo die reg verhewe is.
- Joe Kleinhans, Villieria
