Wenbrief van die week: Meevoerende ‘projek’ is toe KI-musiek

KI-musiek.
Foto ter illustrasie: Getty Images.

Ek lees met ’n glimlag Anushka van Loggerenberg se bydrae: Mense sal altyd meer egte musiek maak as KI.

Ek wil lankal skryf oor dit wat my so van KI-musiek pla.

My kinders het ook agter hul hande gelag toe ek pragtige musiek – wat aan my gestuur is – vir hulle speel en vra of hulle dalk weet wie die kunstenaar is.

Dit was toe KI.

Deesdae stuur al wat leef sogenaamde mooi liedjies aan, maar jy kan nie kop of stert uitmaak of die sanger klink na iemand wat jy ken, of iemand wat jy nog moet ontmoet nie.

Maar soos Anushka sê – ons ouer geslag herken duidelik nie altyd waar KI sy onegte kop ingesteek het nie.

Met video’s wat aangestuur word, het ek nou al (hopelik) geleer wat om te glo en wat nie.

Maar die musiek is nog vir my ’n teer plekkie.

Ek was meegevoer deur ’n paar liedere wat iemand vir my stuur van ’n kunstenaar op TikTok. Hy noem homself ’n “projek”. Omdat hy nie van Suid-Afrika af is nie, het ek geglo die man bestaan regtig.

Iemand met só ’n stem sou ek graag wou ontmoet!

My dogter luister met een oor toe ek een aand na “sy” musiek luister.

Sy lag en vra: “Gaan Ma hom e-pos en nooi om ’n konsert in ons land te kom hou?”

Ek het natuurlik nie gedink sy is snaaks nie, maar nadat ek ná vele vrugtelose pogings iets oor hom probeer uitvind het, besef ek: Hy is ’n projek – ’n KI een.

  • Ilze Kotze, Krugersdorp

Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:

lesers@diepapier.co.za


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie