Ai, oom Marius Coertze (lees dié brief onderaan), dit verbaas my eintlik glad nie dat jy al jou inligting oor Gen Z op YouTube gekry het nie. Dit klink amper asof jy jou inligting op die internet kry – nes ons Gen Z’s!
Dit is heeltemal waar dat ons ons inligting deur sosiale media kry, maar ons kry dit op amptelike nuusblaaie, nie net deur ’n lukrake smaakmaker nie.
Is dit nie tog waar dat die meeste mense nou hul nuus as gevolg van die digitale era kry nie – nie net Gen Z nie? As ons taal so “cringy” is om te gebruik, moet dit dan nie gebruik nie.
Ek, as deel van Gen Z, kan getuig – die meeste van ons het uiterste respek vir alle mense, meer so as ander generasies.
Daar is uitsonderings soos in enige generasie, maar dit is nie regverdig dat jy ons hele generasie oor dieselfde kam skeer nie. Ek sal graag wil weet wat jy bedoel met basiese vaardighede, want ek kan belowe dis nie die internet wat my leer lees het nie.
- Anushka van Loggerenberg, Germiston
Gen Z weet niks van die regte wêreld nie
Ek verskil heftig met Anushka van Loggerenberg. Ek het al na verskeie video’s oor Gen Z se oningeligtheid op YouTube gekyk en dis uiters “cringy” om hul taal te gebruik.
Hulle weet byna niks van die regte wêreld af nie, behalwe al die irrelevante inligting van sogenaamde beïnvloeders op TikTok. Nie alleen weet Gen Z byna niks van basiese vaardighede af nie, maar hulle is uiters disrespekvol teenoor gesagsfigure, ou mense en hul meerderes.
Hulle is ongemanierd en arrogant. As jou hele bestaan van jou selfoon en die internet afhang, is jy hulpeloos sodra daar nie ’n sein is nie of as die internet dalk ophou werk.
- Marius Coertze, Pretoria
