Wenbrief van die week: Vertel ook verhale van goeie sportmangees

Hokkie.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Dit was koud langs die hokkie-astro van Pretoria Boys High laas Vrydagaand, maar dit het nie die toeskouers se ondersteuning en entoesiasme tydens die eerstespanwedstryd gedemp nie. Die jaarlikse kragmeting tussen Affies en Boys High is ’n jare lange instelling wat die seisoen afsluit. Dit gaan nie net oor die rugby nie, maar veral ook oor die seunshokkie.

Baie is op die spel en die atmosfeer is gelaai. Daar is vol pawiljoene, dirigente, vlae en baniere.

Terwyl ek ’n plek soek vanwaar ek die wedstryd kan sien, word ek deur seuns van Boys High en Affies gegroet.

Dit is ’n taai stryd waarin Affies uiteindelik seëvier. Ná die wedstryd – waar die emosies ook maar soms hoog geloop het – word ’n groepfoto geneem.

Die manne van die verskillende spanne gaan staan tussen mekaar. Een korter Boys High-seun gryp sommer twee langer Affie-manne om die nek om ’n plek in die foto te kry.

Ná die foto kry Affies die kans vir ’n kreet en hul skoollied. Boys High se vol pawil­joen (en ouers) bly doodstil vir die oomblik. Ná die skoollied word hande geklap vir die wenners. Dan volg Affies (en die ouers) met dieselfde eerbetoon aan Boys High: stilte, ’n kreet, ’n skoollied. En dan applous vir Boys High se goeie sportmangees. Terwyl dit voor my oë afspeel, is daar ’n knop in hierdie pa se keel.

Ná die afgelope nuusdekking oor die gebeure tussen die Hoërskool Dr. E.G. Jansen en die Hoërskool Menlopark is hierdie ’n trotse oomblik.

Daar is ook ander verhale in hierdie land. Verhale waar skole mekaar respekteer en goeie sportmangees wys – oor baie meer tipes grense heen as net dié tussen byvoorbeeld twee Afrikaanse skole. Selfs grense soos taal, ras en die tong-in-die-kies Boere en Britte! Mag ons hierdie verhale ook vertel.

  • ’n Pa van Pretoria

Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:

lesers@diepapier.co.za

Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos