Daar is slegs vier wedstryde oor vir elke klubspan in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) voor dié toernooi se uitkloprondes begin.
Dit is dus nou maak of breek vir SA spanne, wat almal ’n goeie kans staan om dié rondes te haal.
Die Hollywoodbets Sharks is tans 10de op die puntelys, maar sal hul twee wedstryde oorsee en twee wedstryde in Durban oortuigend wil wen om ’n plek in die top-agt te verseker.
Hulle sal eerste teen Ospreys en Edinburgh kragte meet, en dan in Suid-Afrika teen Benetton en Zebre Parma te staan kom.
“Ek dink die gemoed in die kamp is op die oomblik baie goed,” het Sharks-kaptein, André Esterhuizen, hierdie week aan die media verduidelik.
“Ons weet ons bou iets hier, en ons weet ons moet basies vier uit vier wedstryde wen om ’n kans te staan om in die top-agt te kom. So ek dink die groep is baie gemotiveerd,” het hy gesê.
Volgens Rugby365 sal hulle egter sonder Eben Etzebeth moet klaarkom, wat op 3 April sy eerste wedstryd sedert November verlede jaar, gespeel het. Hy het in dié wedstryd teen Connacht sy heup seergemaak.
Hoewel die Sharks met ’n ellelange krukkelys sit, is Bok-kaptein Siya Kolisi darem weer gereed om op die veld te draf.
In agste plek is die Vodacom Bulls, wat volgende in Wallis teen die Dragons en Scarlets speel, voordat hulle teen Zebre Parma en Benetton op Loftus Versfeld kragte meet.
Al vier dié spanne boer aan die onderkant van die puntelys, en die Bulls behoort met goeie oorwinnings moontlik ’n tuisveld-kwarteindstryd te verseker.
Die Bulls het die laaste vier uit hul vyf wedstryde gewen en sal op daardie momentum wil voortbou.
Die Fidelity Securedrive Lions se pad na die top-vier sal egter ’n bietjie moeiliker wees. Ja, hulle is tans vyfde op die puntelys, maar om Glasgow Warriors, tans die voorste span in die VRK, en dan Connacht (negende) op Ellis Park te wen, kan moeilik wees.
Daarna reis hulle oorsee om Leinster en Munster, twee Ierse reuse, aan te pak.
“Ons moet ’n goeie mindset hê, want die laaste paar wedstryde is regtig belangrik. Jy wil nie een verloor en dan staat maak op ander spanne om te verloor om die uitklopwedstryde te haal nie. Dit was wat vorige seisoene gebeur het, ” het skrumskakel Nico Steyn aan Die Papier gesê.
Die DHL Stormers is tans tweede op die puntelys en sal poog om die Glasgow Warriors van die bopunt af te skop. Indien hulle dit wil regkry, sal hulle die meerderheid van hul wedstryde teen Connacht, Glasgow Warriors, Ulster en Cardiff moet wen. Nes die Lions sal die eerste twee kragmetings tuis plaasvind.
“Ons het baie om voor te speel wat die puntelys betref, en ons wil met die ondersteuning van die skare ens. die laaste paar wedstryde eindig,” het Stormers-flank Deon Fourie aan die media gesê.
“Kry daardie topposisie, en hopelik kan ons daarop voortbou, en weer ’n eindstryd voor ons mense speel,” het hy gesê.
VRK-wedstryde
Vrydag (17 April)
20:45 Bulls t. Dragons
Saterdag (18 April)
13:45 Stormers t. Connacht
16:00 Lions t. Glasgow Warriors
20:45 Sharks t. Ospreys
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
