Staat oor Malema-vuurwapensaak: ‘Niemand is bo die gereg verhewe nie’

Julius Malema, EFF-leier, Woensdag in die landdroshof in KuGompo-stad (Oos-Londen). Foto: Gallo Images
Julius Malema, EFF-leier, Woensdag in die landdroshof in KuGompo-stad (Oos-Londen). Foto: Gallo Images

Adv. Joel Cesar, die staatsaanklaer in Julius Malema se vuurwapensaak, het vanoggend op die eerste dag van vonnisverrigtinge aan die landdroshof in KuGompo-stad (voorheen Oos-Londen) gesê Malema se optrede was kwaadwillig en dat hy, as ’n wetmaker, van beter moes geweet het.

Cesar het gesê daar rus ’n groter verantwoordelikheid op openbare figure om binne die wet op te tree en daarom eis die staat die maksimum vonnis van tot 15 jaar tronkstraf.

“Sy optrede was kwaadwillig, om die minste te sê. Hy was ’n gevaar vir die meer as 20 000 mense wat by die geleentheid was. Dit was deur die Here se genade dat niemand seergekry het nie.

“Niemand is bo die gereg verhewe nie. Gegewe die beskuldigde se statuur en die feit dat hy ’n leier van ’n politieke party is, moet hierdie hof van hom ’n voorbeeld maak,” het Cesar gesê.

Cesar het verder aangevoer dat die onwettige afvuur van die vuurwapen ’n gevaarlike presedent geskep het. Hy het onder meer verwys na ’n voorval in Augustus 2024 toe die omstrede pastoor Paseka ‘Mboro’ Motsoeneng glo met ’n wapen by ’n skool in Katlehong opgedaag en mense gedreig het.

“Mense dink hulle kan ligtelik wegkom met hierdie tipe kriminele oortredings. Hierdie hof moet ’n sterk boodskap uitstuur.

“Die beskuldigde in hierdie saak is ’n lid van die parlement. Hy help om hierdie land se wette te bepaal. Nou is hy die een wat daardie einste wette oortree het. As dit enigiemand anders was, sou hy eis dat daardie persoon toegesluit word,” het Cesar aan die hof gesê.

LEES | Malema-vuurwapensaak: Staat vra vir maksimum vonnis

Een van Malema se regsverteenwoordigers, adv. Laurence Hodes, het aangevoer dat vuurwapens dikwels vir feestelike doeleindes by begrafnisse, troues en verjaarsdae afgevuur word.

“Daar was nog nie ’n enkele saak waar iemand suksesvol vervolg is vir die afvuur van ’n vuurwapen by sulke geleenthede nie. Dit is ’n feit wat op sy eie staan.

“In hierdie saak is ’n wettige vuurwapen gebruik. Dit is selfs aan die wettige eienaar terugbesorg voordat uitspraak deur die hof gelewer is,” het Hodes gesê.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, wat ook vir Malema verteenwoordig, hou vol dat die staat se eis vir ’n maksimum vonnis ’n oordrywing is gegewe die aard van die oortreding.

“Hierdie is ’n persoon wat een keer ’n wettige vuurwapen afgevuur het. Dit is aan die wettige eienaar terugbesorg.

“Hy besit nie onwettige vuurwapens nie, en daarom is dit verregaande vir die staat om te eis dat hy tussen sewe en 15 jaar gestraf word. Die staat, wat argumenteer dat die skare in gevaar was, kon ’n getuie na hierdie hof bring om daardie bewering te staaf. Die staat kon nie ’n enkele getuie voor hierdie hof plaas nie,” het Ngcukaitobi gesê.

Die saak spruit uit ’n voorval in 2018 tydens die Economic Freedom Fighters (EFF) se vyfde verjaarsdagvieringe by die Sisa Dukashe-stadion, waar Malema glo ’n geweer in die lug afgevuur het.

Malema is reeds in Oktober verlede jaar skuldig bevind op verskeie aanklagte, insluitend die onwettige besit van ’n vuurwapen en die afvuur daarvan in ’n beboude gebied.

Hy sal na verwagting Donderdag gevonnis word.

Die uitkoms hou verreikende politieke implikasies vir Malema in. Sou hy vir meer as 12 maande gevonnis word sonder die opsie van ’n boete, sal hy vir minstens vyf jaar nie in die nasionale vergadering kan sit nie.

Malema het vroeër die week aangedui dat hy ’n swaar vonnis sal appelleer. Sou die landdroshof sy aansoek om verlof tot appèl van die hand wys, sal sy regspan die hooggeregshof nader.

Hy sê ook hy sal aansoek doen vir sy borgtog om verleng te word.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie