In ’n land waar talle kinders daagliks met verwaarlosing, mishandeling en armoede gekonfronteer word, vervul NG Welsyn Noordwes ’n belangrike rol om ’n tweede kans te bied.
As die welsynsarm van die NG kerk se Goudlandsinode, staan die organisasie aan die voorpunt van sorg en ondersteuning vir kinders wat nie meer veilig in hul ouerhuise kan woon nie. “Onder die organisasie val onder meer die Catherine Robson- en Abraham Kriel- kinder- en jeugsentrums in onderskeidelik Vereeniging en Potchefstroom,” sê Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds.
Hier kan kinders alternatiewe sorg ontvang wanneer hulle weens ’n hofbevel uit hul ouerhuis verwyder is. Van Staden sê volgens die Kinderwet benodig die kinders beskerming en iemand om na hulle om te sien.
Die meeste van hierdie kinders kom uit moeilike omstandighede waar faktore soos dwelm- en alkoholmisbruik, geweld en verwaarlosing algemeen voorkom. Van Staden sê kenners is dit eens dat die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe van deurslaggewende belang is vir ontwikkeling.
Daarom word sterk gefokus op vroeëkinderontwikkeling en die bou van gesonde verhoudings tussen versorgers en kinders. Kleuters skakel by kleuterskole in om hul ontwikkeling verder te stimuleer.

“Behalwe vir terapeutiese ondersteuning, word kinders met lewensvaardighede en ’n gesonde waardestelsel toegerus. Programme fokus onder meer op selfbeskerming, konflikhantering, wat om te doen wanneer jy geboelie word en ander uitdagings waarmee baie kinders daagliks gekonfronteer word,” sê Van Staden.
Versorgers ontvang ook deurlopende opleiding om die kinders te ondersteun.
“Hierdie holistiese benadering help om kinders nie net akademies nie, maar ook sosiaal en emosioneel te versterk,” voeg Van Staden by.
Die sukses van hierdie werk is reeds sigbaar. In 2025 het 19 matrikulante uit die kinder- en jeugsentrums hul skoolloopbane suksesvol voltooi – ’n prestasie wat dui op deursettingsvermoë, afgesien van hul uitdagende agtergronde.
“ ’n Bydrae aan Die Kinderfonds help verskeie kinderhuise landwyd; dit maak ’n kind weer heel,” sê ’n verteenwoordiger van een van die sentrums.
Sy lig twee suksesverhale uit: “ ’n Seun op die outismespektrum by die Catherine Robson-sentrum het moeilik in ’n hoofstroomskool aangepas.
“Hy is deur middel van ondersteuning in ’n private skool geplaas. Hy floreer nou akademies en sy algemene gedrag het verbeter.
“ ’n Meisie in die Abraham Kriel-sentrum het gesukkel met akademiese agterstande en ’n lae selfbeeld. Met terapie en ekstra klasse het haar selfbeeld en prestasies merkwaardige vordering getoon.”
Van Staden sê die werk van NG Welsyn Noordwes is ’n ligpunt van hoop in ’n samelewing waar soveel kinders sonder beskerming en leiding grootword.
- Donasies kan inbetaal word by Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer en naam as verwysing.
- Bydraes is belastingaftrekbaar.
- Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.
