Oogpunt: Dis (beslis) nie ’n Bakkie . . .

Die Papier.

Die advertensie van Toyota in vandag se hoofkoerant bring verskeie elemente kreatief bymekaar. Daar word vaardig met konteks, nostalgie, kultuur, landbou, die trots van ’n eie voertuig en vooruitgang gesinspeel – alles uiteindelik met hul spogproduk as ’n sentraal geïntegreerde aspek van dit alles.

Hier is geen poging om in stryd met die perskode adverteerders se lof in ongemerkte redaksionele inhoud te besing nie.

Daarvoor betaal hulle op bladsy sewe. Die vraag is, kon hul veldtog wel sy maksimum trefkrag en waarde gehad het sonder om dit staties, dog kleurvol, op papier vas te vang – daar waar dit nie in ’n vlietende oomblik verby is nie; daar waar tyd geneem kan word om die speel met woorde en beelde in te neem.

Dieselfde vraag geld nuusinhoud. Dit bly ’n manier vir lesers om op die sinvolste manier en met begrip ingelig te word terwyl hulle geniet om dit te ervaar.

Hilux-advertensie.

Die Papier se tiende uitgawe verskyn reeds oor twee weke op Vrydag 8 Mei.

Om ’n nuwe koerant uit die niet te skep, is ’n reuse-uitdaging.

Harde werk deur ’n toegewyde redaksiespan en medewerkers en bestuur, goeie ondersteuning deur adverteerders en ongekende eienaarskap deur lesers het ons al sover.

Hef aan lê nog voor om die nuwe baba tot wasdom te laat groei. Lees maar koerante se ontstaansgeskiedenis. Dit sluit in om goeie beskikbaarheid in die regte winkels, waar ons lesers is, te vestig.

Gelukkig het ons lesers inge­spring om ons te help te laat weet gedurig waar te min of te veel is.

Sommige pak dit sommer self op winkelrakke reg as dit nie behoor­lik uitgestal is nie en wys winkeliers, wat self nog vreemd is aan die nuwe titel, vinnig daarop.

Hou asseblief saam met ons en die verspreiders daarmee vol.

Die Papier – 24 April 2026.
Die Papier – 24 April 2026.

Die koerant gaan in die eerste plek nie oor wie betrokke is met die uitgee daarvan nie.

Dit is ’n ongekende bate vir die Afrikaanse lesersgemeenskap in sy geheel.

Daarom moet ons dit almal saam oor die volgende weke, maande en jare uitbou en vestig.

Uit lesersreaksie, ook op sosiale media, is die kommentaar op die inhoud van die koerant oorweldigend positief. Dankie daarvoor; ons hou vol om dit steeds te verbeter en volgens lesers se waardevolle insette te vorm.

Die Papier se eerste uitgawe.
Die Papier se eerste uitgawe.

Ons neem opbouende kritiek ook ter harte. ’n Hoogtepunt is onderwysers wat laat weet van die waarde wat die koerant weer vir klaswerk het.

Indien elke leser die koerant een keer aan dier een ander iemand bekendstel, gaan ons veel verder strek as doelwitte wat reeds bereik is.

In een van die mediabe­dryf se evaluasies is gesê hulle wag om te sien “of Die Papier bloot ’n laaste sentimentele opflikkering is, of ’n standhoudende en groeiende mediabate”.

Ons glo laasgenoemde, veral omdat ons dit ontwikkel met ’n toenemende uitrol van elektroniese platforms, wat dit kan aanvul of mense bereik, wat dit so verkies – dit saam met susterpublikasies in Novus Media.

Ons is hier om te bly.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie