Die diagnose van tipe 1-diabetes by Vickie de Beer se agtjarige seun het die De Beer-gesin se lewe ingrypend verander.
De Beer, destyds kosredakteur van Rooi Rose en ’n opgeleide sjef, het haar skielik in ’n nuwe wêreld bevind: een van koolhidrate tel, elke porsie noukeurig afweeg en daaglikse insulieninspuitings.
“Dit was ’n skreiende kontras met die wêreld van fyn kookkuns, gebak en luukse restaurante,” vertel sy uit Nederland, waar die gesin sedert 2020 woon.
“Ek het voortdurend navorsing gedoen oor diabetes, en praktiese planne ontwikkel om die alledaagse bestuur van dié outo-immuunsiekte binne ons gesin eenvoudiger te maak.”
Tog het sy gevoel dat Lucca nie werklik floreer nie. “Al het ons al die voorskrifte van dieetkundiges en dokters streng nagekom, het sy bloedsuikervlakke steeds onstabiel gebly.”

Ná die bekendstelling van The Real Meal Revolution, deur prof Tim Noakes, Jonno Proudfoot en Sally-Ann Creed, het sy begin besef dat die oormaat koolhidrate ’n rol speel in Lucca se wisselende bloedsuiker, al is dit volgens riglyne deel van sy dieet.
“Ek het met ’n doelgerigte plan ons gesin se koolhidraatinname begin verminder. Binne drie maande het ons ’n merkbare verbetering in Lucca se bloedsuikerbeheer en algemene gesondheid gesien – selfs in sy gemoed en konsentrasievermoë.”
Wat sy nie verwag het nie, was dat die res van die gesin se gesondheid ook sou verbeter. Steeds het sy aangehou met haar navorsing.
Haar eerste boek oor dié onderwerp het in 2015 verskyn. Sy beskryf The Type 1 and Type 2 Diabetes Handbook (met medeskrywers Kath Megaw en David Segal) as ’n “praktiese handleiding” vir die daaglikse bestuur van diabetes en insulienweerstandigheid deur ’n lae-koolhidraatbenadering.
‘Dit was merkwaardig om te besef dat die lae-koolhidraatdieet wat ons gevolg het, ook deur navorsing ondersteun word as die benadering vir dermgesondheid.’
Maar sy wou alles moontlik verstaan oor die oorsaak van Lucca se outo-immuunsiekte, en jarelange indiepte-navorsing het haar uiteindelik na dermgesondheid gelei. “Nuwe studies oor die belangrikheid van die mikrobioom en die gesonde toestand van die dermwand het my laat besluit om ook gefermenteerde kosse by ons dieet in te sluit,” vertel sy. “Dit was ’n heel nuwe rigting vir ons gesin.”
In Maart vanjaar het Gut Health: The South African Guide, wat sy saam met dr. Stephen Schmidt geskryf het, verskyn.
“Vir my was die boek werklik die samevatting van al my jare se navorsing.”
“Dit was merkwaardig om te besef dat die lae-koolhidraatdieet wat ons gevolg het, ook deur navorsing ondersteun word as die benadering vir dermgesondheid. Die fokus op proteïen en veselryke, lae-koolhidraatgroente is nie net voordelig vir metaboliese gesondheid nie, maar ook vir die mikrobioom.
“Dieselfde kosse wat bloedsuiker, lewer, hart en bloedvate benadeel, soos suiker, gluten, stysel, saadolies en ultra-verwerkte kosse, kan ook die dermwand en mikrobioom nadelig beïnvloed.”
