Met sowat 100 dae van openbare verhore agter die rug, staan die Madlanga-kommissie by ’n belangrike mylpaal in die stryd teen institusionele korrupsie.
Bo-aan die lys van dringende kwessies is die kommissie se finansiering. Die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling het op 28 April bevestig dat nog fondse benodig word om die kommissie se verlenging tot einde Augustus te dek.
Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, het reeds Enoch Godongwana genader vir ekstra befondsing nadat sowat R123 miljoen van die oorspronklike R147 miljoen-begroting reeds uitgeput is. Daar is tans ongeveer R24 miljoen oor.
Dhlamini ontken bewerings te midde van bewyse
Umashi Dhlamini, geskorste adjunkhoof van die Tshwane-metropolisie (TMPD), het verder getuig.
Hy ontken alle bewerings van tendermanipulasie, ten spyte van WhatsApp-boodskappe tussen hom en Fanie Nkosi, ’n geskorste polisiesersant. Die boodskappe dui daarop dat Dhlamini vir Nkosi as ’n middelman gebruik het om met Gareth Mnisi, die geskorste finansiële hoof van Tshwane, te kommunikeer oor tenderprosesse.
Sy getuienis het ook vrae laat ontstaan oor beweerde politieke druk en die rol van sogenaamde bevoordeelde maatskappye.
LEES | Dramatiese verwikkelinge by Madlanga-kommissie
Sakeman in fokus
Nog ’n sleutelfiguur is Suliman Carrim. Hy bly sentraal tot bewerings van grootskaalse korrupsie, insluitend die beweerde ontvangs van honderde miljoene rand uit munisipale tenders en pogings om ’n omstrede polisiekontrak te beïnvloed.
Sy getuienis is belangrik, veral in die lig van nuwe bewyse oor verdagte banktransaksies. Bankstate word tans deur adv. Matthew Chaskalson, hoofgetuienisleier van die Madlanga-kommissie, ondersoek.

Borgtog toegestaan
Julias Mkhwanazi, geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), en sy medebeskuldigde, Kagiso Lerutla, die stadsbestuurder, is op borgtog van R30 000 elk vrygelaat.
Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling.
Die saak, wat ook Fannie Masemola, die geskorste nasionale polisiekommissaris, raak, hou verband met ’n tenderskandaal van R360 miljoen en kan verdere lig werp op die netwerke wat tans deur die kommissie ondersoek word.
Die kommissie is tans onder druk om sy werk te voltooi voor die sperdatum van 31 Augustus 2026, met ’n tweede tussentydse verslag wat teen 29 Mei aan president Cyril Ramaphosa oorhandig moet word.
