‘Die Papier’ praat nou op die web

Die Papier Praat.
Die Papier Praat.

Die Papier Praat, ’n weeklikse YouTube-nuusprogram, is die jongste toevoeging tot Die Papier-stal. ’n Nuwe program vol nuus sal elke Donder­dag om 19:00 uitgereik word.

Benewens ’n voorskou van wetenswaardighede uit die volgende dag se uitgawe van Die Papier, kan kykers ook uitsien na besprekings en ontledings van plaaslike en internasionale nuus, en ander aktuele kwessies.

Daniëlla van Heerden.
Daniëlla van Heerden.

Sportliefhebbers word ook nie afgeskeep nie. ’n Sportsegment met ’n oorsig van die week se belangrikste sportnuus én ’n voorskou van die naweek se sportkalender, sal aansluit by Die Papier se reeds gewilde weeklikse sportblaaie.

Die Papier Praat word aangebied deur Daniëlla van Heerden, ’n voormalige nuusleser van eNuus op kykNET.

Jana Swart.
Jana Swart.

Jana Swart, ’n gewilde sport-­aanbieder en sport-beïnvloeder, sal jou op die hoogte bring oor allerlei sport. Swart is ’n groot sportliefhebber, met ’n BSc in sportwetenskap en honneurs in hoëprestasie-sport.

Sy was ook die mediabeamp­te van Stellenbosch FC, ’n mededinger in die PSL-sokkerliga.

Barnard Beukman, Die Papier se redakteur, sê hy is opgewonde oor die “opwindende en nodige uitbreiding” van die weekblad se handelsmerk.

“Ons het van die begin af gesê die gedrukte koerant is ’n belangrike basis vir die handelsmerk, maar is slegs een element daarvan. Nog elemente is aan die kom, en ons webwerf staan ook aan die vooraand van groot spronge.”

Beukman sê dis vir hom en sy span ’n groot eer dat Daniëlla en Jana aan boord is vir Die Papier Praat. “Ek glo hulle gaan help om Afrikaanse nuusuitsendings onherroeplik en op ’n opwin­dende manier te verander.”

Jeannine van Zyl, die hoof van premium produkte en inhoud by Novus Media, Die Papier se moedermaatskappy, is net so opgewonde oor die toevoeging.

“Met Die Papier Praat wil ons Die Papier se platform verder uitbrei om ons lesers ook op ’n moderne, toeganklike en persoonlike manier te bereik,” sê sy. “Die uitsending gee ons die geleentheid om die stories agter die hoofopskrifte verder te vertel.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie