Oogpunt: Fokus eerste op die grense met immigrantekrisis

So het March and March-betogers in Pretoria in April teen onwettige immigrante betoog.
So het betogers in Pretoria in April teen onwettige immigrante betoog. Foto: Emmanuel Croset, AFP.

Wettige en onwettige immigrante is tans in ’n ongesonde, onveilige situasie vasgevang. Die gesegde “ ’n mens is nie ’n boom nie; as jy nie hou van waar jy is nie, skuif”, flits deur jou kop.

Gedokumenteerd of nie, immigrante plaas ekstra druk op ons land se reeds sukkelende skole en gesondheidsorg – om van ons werkloosheidsyfer nie eens te praat nie. Maar hulle bly mense wat in die meeste gevalle reeds hier wortelgeskiet het in ’n oorvol oerwoud gebuk onder korrupsie, misdaad en wetteloosheid, wat soos ’n parasi­tiese infeksie deur die woud trek.

Pres. Cyril Ramaphosa het die haat teenoor vreemdelinge in sy kenmerkende lou familietoespraak voorgehou as iets wat Suid-Afrikaners in die “gees van ubuntu” moet hanteer.

Intussen gee hy meer hulpbronne op alle vlakke, onder meer om korrupsie in binnelandse sake uit te roei en grensposbeheer te verskerp. Nou eers – wanneer ons sit met ’n siek ekostelsel wat die ANC oor jare geskep het, maar hulle wortel en tak voor die November-verkiesing wil uitroei.

Die March and March-beweging, wat onwettige immigrante uit die land wil kry, se spertyd om die “indringers” uit te kry, is sommer nou aan die einde van Junie. Vat jou goed en trek, Patience (wie se regte naam toe Siphiwe Moyo is).

Maar hoe onmenslik is dit nie om diegene wat vir jare met oop arms hier verwelkom is, nou te wil ontwortel en terugstuur nie. En waarheen? Verskroeide plantasies waar die grond brak is en geen wortel meer kán skiet nie? Dink ook aan die verwoestende ­uitwerking wat dit op ons ekonomie kan hê.

Baie van die buitelanders, wat al jare hier is, dra daagliks by tot geld wat hande verruil en uiteindelik sorg vir verbeterde ekonomiese graderings. Intussen word verskeie buitelanders, wettig of nie, deur vigilante organisasies soos Operation Dudula verbied om enige hulp by hospitale te kry. Stories van vroue wat reg voor staatshospitale geboorte moet gee, is algemeen.

Dan is daar “vreemdelinge” wat al vir dekades hier bly en sukkel om wettige werkpermitte te kry.

Die einste Siphiwe woon al vir byna 20 jaar in die land en met ’n wettige ZEP-permit. Sy het jaarliks duisende rande vir haar werkpermit betaal totdat wetgewing in 2024 verander het.

Weens die komplekse aanlyn proses is ’n immigrasieprokureur reeds in November 2024 betrek om eindelose vorms te help invul en ’n afspraak te kry vir dokumentasie. Tot nou het sy nog net ’n kwytskeldingsbrief gekry en wag sy steeds vir haar werkvisum. Die stelsel wys die versoek is daar – al vir byna twee jaar dieselfde boodskap.

Siphiwe se daaglikse bestaan is gevul met vrees vir aanvalle en haatspraak. In plaas daarvan om op een aspek te fokus, soos om binnelandse sake se korrupte wortels uit te ruk, verdeel Ramaphosa al sy hulpbronne wat onmoontlik die omvang­ryke probleem gaan oplos.

Dis nou tyd vir leiers om op een ding te fokus: Beheer die grenstoegang en maak seker die mense wat alles wettig doen om hier te bly, se aansoeke word minstens na gekyk.

Soms is ’n mens ’n boom.

  • Lucia Poolman is die nuusredakteur van Die Papier.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie