Met betogings teen ongedokumenteerde buitelanders wat na verwagting op Dinsdag, 30 Junie, regoor die land sal plaasvind, sê die Wes-Kaapse polisie hulle is gereed om op enige bedreigings vir openbare veiligheid te reageer.
Die waarnemende nasionale minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, het dié versekering tydens ’n mediakonferensie gegee ná ’n besoek aan die polisie se koördineringsentrum, waar veiligheidsoperasies vir die betogings gekoördineer en gemonitor sal word.
Die besoek was deel van pogings om operasionele gereedheid te evalueer en te verseker dat wetstoepassingsagentskappe voorbereid is vir die beplande betogings.
Kalm optrede aangemoedig
Cachalia het burgers wat aan die beplande betogings teen ongedokumenteerde buitelanders wil deelneem, versoek om hul reg op vreedsame protes uit te oefen en binne die grense van die wet op te tree.
“Die reg om te betoog moet nie as verskoning vir misdadigheid en beledigende gedrag gebruik word nie. Slegs die polisie en ander bevoegde amptenare het die verantwoordelikheid om die wet toe te pas.”
Hy het ook mense aangemoedig om nie “aanhitsende verklarings op sosiale media” te maak nie.
Cachalia het die publiek verseker dat uitgebreide maatreëls ingestel is om die land te beskerm en openbare veiligheid en sekuriteit te handhaaf.
“Ek het ’n volledige voorlegging van die polisie oor hul operasionele planne ontvang. Ons het dié planne deeglik ondersoek om seker te maak dat enige leemtes aangespreek word. Ek is nou tevrede dat die polisie gereed is vir enige moontlike scenario.”
Volgens Cachalia kan die beplande betogings Suid-Afrika tot soveel as R600 miljoen kos, hoewel hy nie ’n volledige uiteensetting gegee het van hoe dié bedrag bereken is of aangewend sal word nie.
Verlof opgeskort
Lt.genl. Bongiwe Zulu, waarnemende adjunk-nasionale kommissaris vir ondersteuningsdienste, het bevestig dat verlof vir gespesialiseerde beamptes opgeskort is om maksimum operasionele gereedheid te verseker.
“Die persone wie se verlof opgeskort is, weet wie hulle is. As hulle oor kritieke vaardighede en kundigheid beskik wat ons tans benodig, weet ons dat wanneer dienslewering van die polisie vereis word, ons beskikbaar moet wees om die mense van hierdie land te dien.”
Die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het inwoners versoek om hulle van enige vorm van geweld, intimidasie of wetteloosheid te weerhou.
“Die Wes-Kaapse regering erken die frustrasies oor kwessies wat inwoners en hul gemeenskappe raak. Ons respekteer ook inwoners se grondwetlike reg om vreedsaam te betoog.
“Enige protesoptrede moet egter vreedsaam, wettig en binne die raamwerk van die grondwet plaasvind. Die oppergesag van die reg moet te alle tye gerespekteer word,” het Marais afgesluit.
