Oogpunt: Immigrante-krisis só geskep

Honderde Zimbabwiese immigrante vergader buite die Zimbabwiese Konsulaat in Kaapstad.
Honderde Zimbabwiese immigrante vergader buite die Zimbabwiese Konsulaat in Kaapstad. Foto: AFP.

Swak regeringspraktyke wêreldwyd en ook in Suid-Afrika het ons in die huidige gemors oor immigrasie gedompel. Dit is een van die hoofredes waarom Keir Starmer pas die handdoek as Britse premier moes ingooi. Sy regering se stadige reaksie op bote vol Afrika-immigrante wat die eiland-land vanaf die Franse kus ingestroom het, was net te veel vir hoogs ontevrede Britte oor omtrent alles in hul land.

Dit bly ’n komplekse kwessie wat deur twee uiteenlopende standpunte gedryf word:

  1. Immigrante is almal misdadigers, jaag hulle uit.
  2. Hoe kan enigiets anders aan die mense gedoen word as om net meer en meer te akkommodeer?

Ook in Suid-Afrika is dit deel van die waarheid dat misdadige elemente saam met immigrante ingestroom het en in sommige areas sogenaamde “no go”-gebiede gevestig het. Dwelm- en selfs mensehandel vier hoogty daar.

Dit is ook so dat hulle met arm Suid-Afrikaners meeding om skaars oorlewingsbronne. Indien dienslewering in ’n goeie toestand was, sou dit dalk makliker wees om ’n bykomende stroom mense te help. Maar die haglike en korrupte toestande wat byvoorbeeld in sommige staatshospitale en klinieke heers, skep onmin in die lang wagrye.

Oor die klagte dat immigrante voorkeur in die werkplek kry en die informele winkelhandel oorheers, is ’n saak wat twee kante het. Werkywer, inisiatief, entrepreneurskap en gereelde aanwesigheid by die werk is van die redes wat sommige werkgewers noem waarom hulle immigrante verkies.

Die Papier-redakteur, Barnard Beukman.
Die Papier-redakteur, Barnard Beukman.

En is ook faktore wat ’n eie winkeltjie op enige plek suksesvol maak. Een eienaar van ’n medium­grootte onderneming in Johannesburg het aan my genoem dat hy net immigrante in diens neem.

Van sy redes mag per implikasie aanstoot gee, maar word herhaal om alle perspektiewe op die tafel te plaas. Volgens hom het sy onderneming sterk begin groei deur die werkywer en vriendelike interaksie met klante sedert hy immigrante aanstel.

Daar is volgens hom nie ontwrigtende vakbondbedrywighede nie en die afwesigheidskoers is drasties minder.

Jare lank is geloer om ’n behoorlike beleidstuk oor immigrasie op te stel met die een kameraadminister van binnelandse sake ná die ander wat gesit en tone tel het.

Leon Schreiber, die DA-minister in die pos, het op ’n niksseggende witskrif deur sy treurige voorganger, Aaron Motsoaledi, afgekom.

Hy het ’n herskepte witskrif deur die kabinet gevoer, maar dit was te laat om die onmiddellike krisis te ontlont. Daarvoor moet die polisie nou honderde miljoene rande uitgee om orde en basiese menseregte te handhaaf.

Dit teen diegene soos March and March met ook misdadige elemente en mededingende dwelmbase in hul geledere.

Pasop ook om soos sommige lekker te kry oor die uitjaag van duisende immigrante. Iemand kan maklik meen dis tyd om die “kolonialiste” te verjaag.

Vervolg die afdreigers oor geweld en ontwrigting, beheer die grense gouer as later, sit onwettiges op ’n menslike manier uit die land voordat hulle tot duisende ophoop en kry dienslewering op ’n vlak wat genoeg ruimte bied vir landsburgers en belastingbetalende wettige immigrante. Dit is al manier.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie