Sedert 1977 gee Die Kinderfonds hoop aan minderbevoorregte kinders oor Suid-Afrika heen deur vir hulle toegang te gee tot noodsaaklike dienste en ondersteuning wat hul lewe kan verander.
In vennootskap met kinder- en welsynorganisasies, asook jeugsorgsentrums, samel die fonds geld in om kinders ’n beter kans op ’n suksesvolle toekoms te gee.
Die verskil wat hierdie ondersteuning maak, word weerspieël in talle suksesverhale. ’n Negejarige meisie se IK-telling het merkbaar verbeter nadat sy gereeld spraak- en arbeidsterapie ontvang het. ’n Agtjarige seun, wat aanvanklik vir spesiale onderwys oorweeg is, kon sy agterstande só inhaal dat hy in hoofstroomonderrig kon aanbly.
Nog ’n tienermeisie se taalvaardighede het deur spraakterapie soveel verbeter dat sy onder die top-10-presteerders vir Engels in haar graad gereken word.
Vir ander kinders lê die oorwinnings in die klein, maar betekenisvolle mylpale van die alledaagse lewe, soos om jou eie naam te kan skryf, jou verjaarsdag te onthou of jouself onafhanklik te kan versorg. Hierdie prestasies herinner ons daaraan dat elke kind, met die regte ondersteuning, die potensiaal het om te groei, te ontwikkel en te floreer.
Jy kan ook ’n verskil maak deur deel te neem aan vanjaar se Die Kinderfondsprojek, in samewerking met RSG en Die Papier. ’n Skenking van slegs R50, omtrent die koste van ’n brood en melk, help om ondersteuning aan kwesbare kinders te bied en gee skenkers terselfdertyd ’n kans om een van die groot pryse te wen: R200 000 kontant of ‘n Toyota Vitz.
Vir elke R50 wat geskenk word, ontvang deelnemers een inskrywing. ’n Spesiale aanbod geld vir skenkings van R250, wat ses inskrywings in plaas van vyf beteken. Daar is ook ’n ekstra R20 000 kontantprys op die spel vir deelnemers wat teen die einde van die projek altesaam R1 800 of meer geskenk het.
Daar is nou ook ’n ekstra bonusprys van R5 000 op die spel!
Almal wat R50 of meer skenk tot en met 3 Julie is outomaties in die trekking vir dié bonusprys.
Kry al die inligting by diekinderfonds.co.za.
Vir bydraes:
Die Kinderfonds, Absa, rekeningnommer 2840157329, gebruik jou selfoonnommer as verwysing. Kaartbetalings kan hier gemaak word.
Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.
