Onlangs het Sanral genoem dat hy dalk tolhekke op alle nasionale paaie moet bou om met instandhoudingskoste te help. En ek dink by myself: Gaan Sanral tolgeld vir eie gewin aanwend, of Trans African Concessions (Trac) se voorbeeld van die N4-opgradering volg?
Wat ’n plesier om iewers op die N4 van Pretoria na Maputo te ry. Dit is meestal aan Trac te danke. Dit is ’n private maatskappy wat van 1998 tot 2028 ’n kontrak met Sanral het om hierdie N4-roete van 570 km op te knap en in stand te hou. Trac verdien al die eer wat hulle toekom aangesien hulle getrou bly aan hul leuse: Ons maak een kilometer op ’n slag ’n verskil.
In al die jare wat ons hier in die Laeveld bly, is ons dankbaar dat ons tolgeld so doelgerig aangewend word.
Ons gee nie om om op ’n dag Trac se padwerk- of stop-en-ry-tekens iewers te gehoorsaam nie, want dan weet ons verbeterings is op pad.
Só het hulle in ongeveer 30 jaar byna elke gevaarlike afrit na en van dorpe, gewilde vulstasies, asook ons lughawe met ’n wisselaar wat dikwels ’n brug insluit, vervang.
Hulle is tans met twee uiters moeilike padkonstruksies besig, naamlik om ekstra bane in die Schoemanskloof- en Krokodilkloof-padlengtes met elk ’n rivier en berg aan weerskante, te bou.
Ons is dankbaar vir al die enkelbane wat deur die jare met dubbelbane vervang is, asook dubbelbane met driedubbele bane, veral met die gevaar van honderde vragmotors op die N4.
- Marie, Mbombela
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
