Kimi se sprokie duur voort

Mercedes se Kimi Antonelli het sy sesde oorwinning van die seisoen in België losgejaag.
Mercedes se Kimi Antonelli het sy sesde oorwinning van die seisoen in België losgejaag. Foto: Nicolas Economou, Getty Images.

Die Formule Een-seisoen het die halfpadmerk bereik en elke naweek voel dit asof die kampioenskap ’n nuwe rigting wil inslaan, maar een gegewe bly . . .

Met nog twaalf renne oor, is die F1-landskap alles behalwe bestendig.

Die hoofkarakter bly Kimi Antonelli. Wat aan die begin afgemaak is as ’n “gelukkige” paar naweke, het nou ontwikkel in ’n patroon wat nie meer uitgevee kan word nie.

Sy hantering van die Mercedes W17 is deurslaggewend en ’n onmiskenbare talent.

Kimi se renintelligensie, sy vermoë om ’n teenstander se volgende reaksie te voorspel en sy kalmte onder druk herinner aan Max Verstappen se eerste paar jaar as renjaer.

Die papajaspan moes in hierdie stadium al hul vlerke gesprei het. McLaren se pakket is goed, die bestuurders is van die beste in die sport, maar die span sukkel om bestendige vertonings te ontsluit.

Dit is dieselfde patroon wat Alpine en Williams toon en dit maak sin dat die kliëntespanne vrae stel oor Mercedes se enjin­verrigting. Ons moet onthou dat die fabriekspan hul aeropakket rondom die enjinkarakter bou, maar kliëntespanne ontvang ’n geslote enjinpakket van Mercedes en moet nou hul aeropak­ket rondom die enjin aanpas. Dit is hul grootste uitdaging.

Ferrari bevind hulself in troe­bel waters. Hulle wou graag vanjaar oorheers en het hul ontwerp vervolmaak, maar hulle is net nie goed genoeg om die kampi­oenskap te beheer nie.

Verstappen se kommentaar ná die Belgiese Grand Prix – dat die RB22 hulle verras het – is goeie en slegte nuus.

Dit verklaar dat die span nie heeltemal hul motor se geaardheid verstaan nie.

Hulle het inderdaad ont­slae geraak van die macarena-­vlerk en teruggekeer na die konvensionele drukvlerk.

Hierdie naweek se Hongaarse Grand Prix is van kritieke belang. Die baan is tegnies, intensief en vereis perfekte bandebestuur.

Mercedes, McLaren en Ferrari behoort hier sterk te wees, maar Red Bull kan dalk net bewys waarom die FIA dink hul enjin is eintlik die beste.

Pirelli gaan ook dié Grand Prix gebruik om bande te toets en die data hieruit kan die rigting van die res van die seisoen bepaal.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie