VDT Prokureurs se gholfdag mik na nóg groter steun vir Die Kinderfonds

Monè Gerryts (Eskort), Mariza Scheepers (Cosmo Central Group), Johan Liebenberg (VDT), Adrie van Staden (Die Kinderfonds), Charl Mocke (CMV), Piet Joubert (Aïda Eiendomme), Andile Ncoyini (FNB) en Tiaan Koen (VDT).

VDT Prokureurs se jaarlikse gholfdag ten bate van Die Kinderfonds word op 29 Oktober by die Woodhill-gholfklub in Pretoria gehou. Die doel is om geld vir behoeftige kleuters in gemeenskapskleuterskole in te samel.

Die gholfdag, wat sedert 2003 jaarliks aangebied word, het verlede jaar R230 000 vir Die Kinderfonds in die sak gebring.

Vanjaar hoop die organiseer­ders om dié bedrag te oortref.

Die geld sal gebruik word om gemeenskapskleuterskole te ondersteun waar behoeftige kinders gevoed word, leer, speel en in ’n veilige omgewing kan ontwikkel.

Ondernemings word genooi om vierballe teen R8 000 elk in te skryf. Die inskrywingsgeld sluit gholfkarre, gholfhemde, middag- en aandete, asook die prysuitdeling in. Eskort se koskar sal verversings op die baan voorsien, terwyl ’n professionele gholfspeler by een van die putjies vir ekstra opwinding sal sorg.

Die gholfdag word moontlik gemaak deur VDT Prokureurs, Eskort, CMV Rekenmeesters, FNB, Aïda Eiendomme, Nashua en die Cosmo Central Group.

“Ons en die borge is met trots deel van die inisiatief om behoeftige kinders op te hef,” sê Johan Liebenberg van VDT Prokureurs.

Adrie van Staden, uitvoerende hoof van Die Kinderfonds, sê die organisasie waardeer die vennootskap met VDT Prokureurs en die borge. “Hierdie prestige­ryke gholfdag is ’n belangrike inspuiting vir Die Kinderfonds en dra werklik by tot ’n verskil in kinderlewens.”

Navrae kan aan Van Staden gerig word by 061 479 4791 (asook WhatsApp) of per e-pos na Elanie@vdt.co.za.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie