Dit was insiggewend om na die pas afgelope wêreldsokkerwedstryde vanuit die oogpunt van ’n rugby-aanhanger te kyk.
Dit het sekere kardinale beginsels in rugby gedemonstreer, onder meer:
Eerstens, behou balbeheer, balbeheer en nogmaals balbeheer, as die bal in jou span se besit is.
Hoewel hoë lugskoppe soms ’n rugbyspan uit uiters moeilike situasies kan red, lei hulle, as hulle nie uit is nie, meestal tot omgekeerde balbesit, wat gevaar vir jou span inhou.
Tweedens: Storm ná lang skoppe vorentoe soos ’n trop wolwe in jou opponente se rigting. Die sokkerwedstryde het ons gewys dat baie doele dan van naby die doelhokke aangeteken word.
In rugby is dodelik goeie aangeë en lugskoppe aan buitesenters en vleuels in hierdie verband ook van kardinale belang, maar ook vir alle ander spanlede. Alle voorspelers moet dit ook kan doen – dus uitstekende aangeë en “aangee-skoppe”. Agter- en voorspelers moet dit bemeester – dus die suiwere en veilige aangee en ontvangs van balle.
’n Mens neem ook nie aan ’n wêreldrugbykampioenskap deel sonder minstens twee uitstekende stel-, skep- en buitelynskoppers gelyktydig in jou span op die veld nie. Die rugbyskeidsregters moet ook spuitkannetjies wit “verf” hê om die presiese plek van die strafskoppe of – indien nodig – die skrums aan te dui.
Die wêreldsokkerwedstryde het ons rugbyspelers dus tog ook gehelp al is dit net om interne kohesie, balhantering en skopwerk te verbeter . . .
- Prof. Pieter Pansegrouw, Pretoria (PPP van P)
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
