‘Ons gaan nie toestemming vra nie,’ sê Flip Buys

Flip Buys
Flip Buys. Foto: Gallo Images.

Kritiek deur dr. Naledi Pandor, teen Akademia sal die organisasie nie van stryk bring nie, het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, aan Kaylie Joubert gesê.

“Ons steur ons nie veel aan haar uitlatings nie. Ons bou eenvoudig voor.”

Hy beskryf Pandor, oud-ANC-politikus en voorsitter van die Nelson Mandela-stigting, se opmerkings as “ ’n weerligafleier vir die ANC se eie mislukkings” en sê sulke uitsprake “skrik ons nie af nie”. Inteendeel, volgens hom motiveer dit die beweging om net vinniger en sterker uit te bou.

Dr. Naledi Pandor.
Dr. Naledi Pandor. Foto: Gallo Images/Rapport/Edrea du Toit.

Buys trek ’n parallel met vroeëre aanvalle deur Panyaza Lesufi op Sol-Tech, en sê die kritiek het destyds juis tot breë steun vir die instelling gelei. Volgens hom kry Akademia eweneens steun “oor die spektrum heen” van verskillende gemeenskappe.

Hoewel Pandor nie meer deel van die regering is nie, sê Buys haar uitsprake weerspieël steeds “ ’n ideologiese denkpatroon wat lank reeds in die ANC bestaan”.

“Ek beskou hierdie aanvalle as ’n vorm van paniekpolitiek,” sê hy. “Namate die staat se vermoë om werkende instellings te onderhou verswak, neem gemeenskappe toenemend self verantwoordelikheid. Akademia is ’n uitstekende voorbeeld daarvan.”

Buys sê die debat wys op ’n dieper spanning oor die plek van Afrikaanse instellings in die Suid-Afrikaanse samelewing.

“Dit wys dat daar steeds mense binne die ANC is wat ’n probleem het met selfstandige Afrikaanse instellings bloot omdat hulle Afrikaans is,” sê hy. Volgens hom spruit dit uit ’n ideologie waarvolgens die staat en die meerderheid uiteindelik moet bepaal “hoe instellings lyk en funksioneer”.

“Die groot ironie is dat die ANC se beleid Afrikaans by talle openbare universiteite feitlik uitgedruk het. Wanneer Afrikaanssprekendes dan hul eie geld, kundigheid en gemeenskapskrag gebruik om ’n instelling soos Akademia te bou, is dit skielik ook ’n probleem.”

Flip Buys.
Flip Buys. Foto: Verskaf.

Hy sê die Solidariteit-beweging sal nie toestemming vra om instellings vir die Afrikaanse gemeenskap te bou nie.

“Ons doen dit binne die Grondwet en tot voordeel van die land. ’n Gesonde Suid-Afrika behoort ruimte te hê vir ’n veelheid van gemeenskappe en instellings, eerder as om almal in dieselfde staatsvorm te probeer giet.”

Vir Buys is die voortbestaan van Afrikaans daarom nie afhanklik van die guns van die regering van die dag nie.

“Natuurlik het Afrikaans ’n plek in Suid-Afrika. Dit is ’n inheemse taal wat deur miljoene Suid-Afrikaners gepraat word en oor ’n gevestigde akademiese, kulturele en intellektuele tradisie beskik.”

Volgens hom moet Afrikaanssprekendes eerder self nuwe ruimtes skep wanneer bestaande ruimtes krimp.

“Ons gaan nie die voortbestaan van Afrikaans afhanklik maak van die politieke guns van die ANC of enige regering nie. As die ruimte vir Afrikaans in staatsinstellings verklein word, moet ons self nuwe ruimtes skep.”

“Dit is presies wat ons met Akademia doen. Ons antwoord op die afskaling van Afrikaans is nie om moed op te gee nie, maar om meer en beter instellings te bou. Daarom bou ons volstoom voort.”

Die Papier-joernalis Kaylie Joubert.
Die Papier-joernalis Kaylie Joubert.

Die vraag oor inklusiwiteit bly egter sentraal tot die kritiek op Akademia. Pandor het aangevoer dat die instelling meer inklusief behoort te wees. Buys verwerp dié uitgangspunt.

“Ek verwerp die uitgangspunt dat ’n Afrikaanse instelling noodwendig nie-inklusief is,” sê hy. “Akademia bestaan nie om ander mense uit te sluit nie maar om Afrikaanse hoër onderwys moontlik te maak nadat die ruimte daarvoor by openbare universiteite dramaties verklein het.”

Volgens hom kan inklusiwiteit nie beteken dat alle instellings uiteindelik dieselfde taal, voorkoms en ideologiese uitgangspunte moet hê nie.

“Dan is dit nie diversiteit nie maar eenvormigheid. Akademia neem niks van iemand anders weg nie. Ons bou met ons eie gemeenskapskrag en hulpbronne ’n instelling om in ’n werklike behoefte te voorsien.”

“Ware diversiteit beteken daar moet ook plek wees vir ’n Afrikaanse universiteitsinstelling.”

Die kern van die argument, soos Buys dit stel, is dus dat die ontstaan van private Afrikaanse instellings nie as ’n bedreiging vir Suid-Afrika se demokratiese projek beskou moet word nie, maar as ’n uitdrukking van gemeenskappe se vermoë om self oplossings te skep waar hulle meen bestaande instellings nie meer in hul behoeftes voorsien nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos