Nog bates van ’n voormalige finansiële administrateur van ’n Noord-Kaapse skool is bevries – dié bates is glo aangeskaf met miljoene rande wat by die skool verduister is.
Die nuutste beperkingsbevel is betreffende ’n residensiële eiendom in Kathu ter waarde van ongeveer R1,8 miljoen, wat aan die 43-jarige Jessica Kuhn behoort. Dié bevel is op Donderdag 27 Augustus deur die Hooggeregshof toegestaan.

Kuhn, wat as ’n finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu gewerk het, is op 2 Julie by haar huis in dié dorp in hegtenis geneem. Sy het na bewering ongeveer R9 miljoen oor ’n tydperk verduister. Kuhn word deur bedrog- en geldwassery-aanklagte in die gesig gestaar, en nadat beslissende feite aan die hof voorgelê is, is sy borgtog geweier.
Die nuutste beperkingsbevel volg ná die bewaringsbevel oor vier voertuie en drie karavane met ’n gesamentlike waarde van ongeveer R1,6 miljoen wat op 20 Augustus aan die Nasionale Vervolgingsgesag se Bateverklaringseenheid toegestaan is. Hierdie bevele verhoed dat die geïdentifiseerde bates verkoop, oorgedra, verberg of andersins van die hand gesit word hangende die uitkoms van die strafvervolging en enige daaropvolgende verrigtinge.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê ondersoeke het aan die lig gebring dat sommige van die voertuie en karavane in die name van Kuhn se familielede geregistreer is.
In die ondersoek is verder vasgestel dat die voertuie vir kontant by dieselfde motorhandelaar in Upington oor ’n tydperk van ongeveer drie weke gekoop is. Die handelaar het ’n deurslaggewende rol gespeel deur wetstoepassingsowerhede by te staan en inligting te verskaf wat beduidend bygedra het tot die opsporing en identifisering van die bates.
