Vier eindstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap in vyf jaar. Vier verbroude kanse vir die Bulls.
Boonop is hierdie jaar se eindstryd byna identies aan die wedstryd ’n jaar gelede: Die Bulls teen Leinster by Croke Park. Die Bulls het toe 32-7 verloor.
Ná 151 wedstryde is ons eindelik by die eindstryd van hierdie seisoen, maar die eerste helfte het gelyk of dinge weereens in Leinster se guns gaan uitspeel.
In Junie verlede jaar het Leinster 19-0 voor geloop teen halftyd. Dié keer was hulle 22-0 voor tydens die breuk.
Die Iere hou van vinnig punte aanteken en dan om hul opposisie te versmoor soos die wedstryd aangaan. Dít het weer met dié wedstryd gebeur.
Die eindtelling was 36-7 en Leinster-losskakel Sam Prendergast was die speler van die wedstryd.
Die eerste helfte van die wedstryd was een wat die Bulls vinnig sou wou vergeet. Met twee geel kaarte en 22 punte, sou ’n twee helfte altyd byna onmoontlik wees.
Ná rustyd het die momentum nogsteeds nie in die Bulls se rigting geswaai nie. Leinster het weer eerste ’n drie gedruk en die voorsprong na 29 punte verleng nog voordat die Pretorianers hulself op die veld kon oriënteer.
Hoewel die Bulls die res van dié helfte met merkbaar meer intensiteit gespeel het, kon hulle eers in die 62ste minuut van die wedstryd hul eerste punte aanteken.
