Die Kinderfonds: ’n Toekoms vol hoop

Die Kinderfonds.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Toe Anna* op 16 jaar in pleegsorg geplaas is, het sy nie geweet hoe haar toekoms sou lyk nie. Vandag, drie jaar later, is sy ’n eerstejaar-onderwysstudent met haar rybewys in die sak en ’n hart vol dankbaarheid vir die mense wat haar ondersteun het.

Anna sê die stelsel waarin sy grootgeword het, het haar nie net ’n veilige plek gebied nie, maar ook geleenthede gegee wat sy moontlik nie andersins sou gehad het nie.

“Ek is passievol oor die lewe en probeer altyd ander mense help, soos die stelsel my gehelp het,” sê sy.

Een van die grootste geskenke wat sy in haar tyd in pleegsorg gekry het, is die mense wat deel van haar lewe geword het.

“Ek het in die tydperk wat ek ingekom het, tien broers gekry vir wie ek baie lief is en waarvoor ek baie dankbaar is.”

Die Kinderfonds.

Anna beskryf ook hoe sy, toe dinge emosioneel moeiliker begin raak het, onmiddellik ondersteuning gekry het. “Die mense om my het my dadelik bygestaan en my gehelp met die sielkundige hulp wat ek nodig gehad het.”

Otto Viljoen, hoofbestuurder van die Diakonale Pleegsorg (DPS)-huise, waarin Anna was, sê die doel van die program is om kinders wat uit besonder traumatiese omstandighede kom, so ’n normale gesinslewe as moontlik te bied.

“Ons fokus spesifiek op erg getraumatiseerde kinders,” verduidelik Viljoen. Kinders word deur maatskaplike organisasies geïdentifiseer en kan daarna in een van die DPS-huise geplaas word.

Elke huis word as ’n familie bestuur, met ’n pleegma, pleegpa en gewoonlik ses kinders.

Die kinders gaan skool, neem deel aan kerkaktiwiteite en word volgens hul individuele behoeftes ondersteun.

­Viljoen sê die huise is doelbewus onopvallend.

“Ons huise is glad nie gemerk nie. Dit is ’n gewone huis in ’n gewone woonbuurt. Enigiemand wat daar verbyry, sal nie eens weet dis ’n pleeghuis nie.”

Daar is tans vyf huise in Gauteng en Noordwes, met sowat 30 kinders wat versorg word.

Die doel is om kinders so lank moontlik te ondersteun, selfs nadat hulle 18 jaar oud geword het.

“Jy bly deel van die familie so lank as wat jy wil deel bly,” sê Viljoen.

Vir Anna beteken dit dat haar verhaal nie by haar verlede eindig nie. Sy kyk vorentoe na ’n loopbaan waarin sy self ’n verskil in kinders se lewe kan maak.

Die Kinderfonds speel ook ’n rol in die groter netwerk van ondersteuning vir kinders in nood. Die onafhanklike, nie-winsgewende fonds samel geld in om kinders en programme wat hulle ondersteun, te help en fokus op hul ontwikkeling na liggaam, siel en gees.

Vir kinders soos Anna is sulke ondersteuning uiteindelik meer as net ’n dak oor hul kop.

Dit kan die begin wees van ’n nuwe hoofstuk, een waarin ’n moeilike verlede nie noodwendig ’n kind se toekoms bepaal nie.

Besoek diekinderfonds.co.za vir meer inligting.

  • Anna is ’n skuilnaam.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos