‘Goeiemôre Good Morning’ brei digitale voetspoor uit en mik na Suid-Afrikaners wêreldwyd

'Goeiemôre Good Morning' betree net meer as 15 maande ná sy eerste regstreekse uitsending op VIA 'n groeifase met ’n uitgebreide digitale strategie wat ook Suid-Afrikaanse gemeenskappe buite die land wil bereik. Foto: Verskaf
‘Goeiemôre Good Morning’ betree net meer as 15 maande ná sy eerste regstreekse uitsending op VIA ’n groeifase met ’n uitgebreide digitale strategie wat ook Suid-Afrikaanse gemeenskappe buite die land wil bereik. Foto: Verskaf

VIA-ontbytprogram betree sy volgende groeifase en neem afskeid van stigtersgesig Rozanne McKenzie.

Goeiemôre Good Morning betree net meer as 15 maande ná sy eerste regstreekse uitsending op VIA (DStv-kanaal 147) op 14 April 2025 nou ’n nuwe groeifase met ’n uitgebreide digitale strategie wat ook Suid-Afrikaanse gemeenskappe buite die land wil bereik.

Die tweetalige ontbytprogram het sedert sy bekendstelling ’n lojale kykersgemeenskap opgebou en hom gevestig as ’n daaglikse bestemming vir nuus, inspirasie, vermaak en praktiese raad. Die program se Facebook-gemeenskap groei steeds, terwyl volledige episodes, hoogtepunte en segmente oor onder meer finansies, leefstyl, sport en aktuele sake nuwe kykers op YouTube bereik.

“In ’n bedryf waar dit dikwels jare neem om ’n lojale kykersbasis én ’n sterk digitale teenwoordigheid te vestig, is die groei van die afgelope 15 maande vir ons besonder bemoedigend. Kykers het die program deel van hul oggendroetine gemaak, en dit bevestig dat daar ruimte is vir vars, relevante en eg Suid-Afrikaanse televisie,” sê Thys van Zyl, vervaardiger van die program.

Digitale uitbreiding oor landsgrense heen

Die program se digitale strategie plaas besondere klem op Afrikaanse gehore in Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, Kanada en ander bestemmings waar Suid-Afrikaners hul tuiste gevind het. Die doel is om Goeiemôre Good Morning se inhoud op Facebook en YouTube verder uit te bou en ’n groter internasionale gehoor te bedien.

“Of iemand nou in Pretoria, Perth, Auckland, Londen of Toronto woon, ons wil die bekende stem wees wat hulle met nuus, inspirasie, praktiese raad en Suid-Afrikaanse warmte verwelkom. Digitale platforms maak dit moontlik om daardie oggendgemeenskap verder uit te brei,” sê Van Zyl.

Afskeid van Rozanne McKenzie

Terwyl die program sy volgende fase betree, neem die span ook afskeid van Rozanne McKenzie, of “Rozz” soos kykers haar leer ken het. McKenzie was sedert die eerste uitsending deel van die program en het met haar professionaliteit, warmte, skerp humorsin en natuurlike omgang met gaste en kykers help vorm gee aan Goeiemôre Good Morning se identiteit.

“Rozanne het van die begin af energie, geloofwaardigheid en opregte betrokkenheid na die program gebring. Ons bedank haar vir haar toewyding, passie en onskatbare bydrae, en wens haar alle voorspoed toe met die volgende hoofstuk van haar loopbaan,” volgens Van Zyl.

Met ’n groeiende gehoor, ’n gevestigde digitale strategie en ’n duidelike internasionale visie wil Goeiemôre Good Morning voortbou op sy rol as ’n oggendgemeenskap wat mense op televisie, aanlyn en oor landsgrense heen verbind.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos