Junior Springbok-hoofafrigter, Kevin Foote, het bestendigheid gekies vir sy span se o. 20-Rugbykampioenskap-wedstryd teen Nieu-Seeland Saterdag, met slegs een verandering aan die wedstrydgroep wat hul laaste wedstryd van dié toernooi sal speel.
Die afskoptyd in Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha is 16:10, en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
Die enigste verandering aan die span wat Australië verlede naweek geklop het, is op die plaasvervangersbank waar losvoorspeler Risima Khosa terugkeer in die plek van Gert Kemp.
Suid-Afrika is tans boaan die puntelys met 10 punte en benodig net een punt uit Saterdag se kragmeting om die o. 20-Rugbykampioenskap vir die eerste keer te wen.
Ten spyte van Nieu-Seeland se onlangse terugslag teen Argentinië, glo Foote die wedywering en vyandigheid met die Kiwi’s bly die grootste uitdaging vir enige Suid-Afrikaanse rugbyspeler, en hy voel dié wedstryd beloof ook om ’n groot een te wees.
“Vir ons raak dit nie beter as Suid-Afrika teen Nieu-Seeland in rugby nie,” het Foote gesê.
“Hulle is ons grootste teenstanders en die geleentheid om teen hulle voor die Gqeberha-skare in die Nelson Mandelabaai-stadion te speel, is ’n voorreg vir almal betrokke by die Junior Bokke.
“Ons het groot respek vir die Nieu-Seelanders en, nes ons, sal hulle baie gemotiveerd wees om die toernooi op ’n hoë noot af te sluit.”
’n Gesamentlike totaal van meer as 20 000 ondersteuners het die openingsrondes in die Nelson Mandelabaai-stadion bygewoon, wat Foote laat beklemtoon het hoe groot die impak van tuisondersteuning is.
“Daar is ’n unieke energie wat daarmee saamgaan om in die Oos-Kaap te speel,” het hy gesê. “Ons voel die passie van die Gqeberha-skare sedert ons twee weke gelede hier aangekom het en om daardie passievolle ondersteuning agter ons te hê, beteken baie vir die span.”
Met die oog op die finale ronde het Foote beklemtoon dat die span se fokus oor meer as net ’n trofee gaan. “Ons doelwit Saterdag gaan oor meer as net die trofee, dit gaan oor ons groei en om die reis voort te sit wat ons met hierdie groep begin het.
“Hierdie twee spanne het ’n geskiedenis waarin onvergeetlike wedstryde opgelewer word wanneer hulle teen mekaar speel, en dit is elke Suid-Afrikaanse rugbyspeler se droom om voor die haka te staan en Nieu-Seeland aan te vat.”
Foote het bygevoeg dat hy tevrede is met die span se voorbereiding vir die kragmeting.
“Ons het ’n goeie week van voorbereiding gehad. Die spelers is opgewonde oor hierdie groot uitdaging, en die afrigtingspan het uitstekende werk gedoen om die groep geheg en positief te hou.
“Gqeberha is ’n wonderlike plek om ’n internasionale toernooi soos die o. 20-Rugbykampioenskap aan te bied, en die mense van die Oos-Kaap was uitstekende gashere. Ons hoop om daardie ondersteuning te beloon met ’n gehaltevertoning teen ons grootste teenstanders Saterdag,” het hy bygevoeg.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
