Hierdie week se sittings vir die Madlanga-kommissie oor staatskaping, is aanvanklik oorheers deur die geheimsinnige “Getuie G”, ’n senior beampte in misdaadintelligensie.
Aanvanklik sou getuienis gevolg kon word deur ’n klankuitsending, maar dié plan is op die nipper laat vaar.
Ná verskeie onderbrekings en die getuie wat geweier het om sensitiewe gedeeltes hardop te lees uit vrees vir blootstelling, het Mbuyiseli Madlanga, die voorsittende regter, die sessie vir die publiek gesluit. Hierdie besluit beklemtoon die erns van veiligheidsbedreigings, veral ná die sluipmoord op Marius (Vlam) van der Merwe, oftewel “Getuie D” in Desember 2025.
Getuie G se volledige getuienis is nie openbaar gemaak nie, maar dit gaan onder meer oor verdagte sterftes, oënskynlike sluipmoordpogings en verwante kwessies. Die rol van die omstrede sakeman, Brown Mogotsi, het ook sentraal gestaan.
Dwelm-diefstal skok op dag 101
Georganiseerde misdaad en dwelmsmokkelary was ook in die soeklig. Genl.maj. Hendrik Flynn, afdelingshoof van die Valke, het getuig oor die diefstal van 541 kg kokaïen, ter waarde van sowat R200 miljoen, uit ’n polisie-stoorfasiliteit in Port Shepstone in 2021. Flynn sê dit was nie ’n toevallige inbraak nie, maar waarskynlik doelbewus beplan.
Dit het vrae laat ontstaan oor die besluit om die dwelms na ’n minder veilige fasiliteit te skuif, asook oor die afwesigheid van basiese sekuriteitsmaatreëls, soos werkende alarms en gewapende wagte.
Hy het voorgestel dat senior beamptes ondersoek moet word en leuenverklikker-toetse moet doen. Daar is ook onthul dat standaardprosedures vir die hantering van bewysstukke moontlik verontagsaam is.
Regsdrama en wat voorlê
Tydens hierdie onthullings het ’n regstryd binne die kommissie ontvou. Mogotsi het aansoek gedoen dat adv. Matthew Chaskalson, die hoofgetuieleier, onttrek. Mogotsi sê Chaskalson het hom onregverdig behandel. ’n Beslissing hieroor word op 15 Mei verwag.
’n Sleutelgetuie sal moontlik binnekort agter geslote deure getuig, terwyl die getuienis van ’n senior Valke-beampte uitgestel is tot 1 Junie 2026.
