Australië het Sondag met net 13 spelers op die veld ’n briljante drie teen die Junior Bokke gedruk. Die fases wat tot die drie gelei het, wys vir ons die uitwerking van Wêreldrugby se nuwe reëls en herinner ons aan die basiese beginsels van verdediging.
Dit dien ook ’n waarskuwing vir dié span voor hul wedstryd Saterdag teen Nieu-Seeland.
Australië het met 35 minute op die horlosie ’n lynstaan net verby die 10m-lyn geneem.
Hulle het ’n vierman-formasie gekies omdat hulle met net 13 spelers op die veld spelers op aanval nodig het. Luca Cleverley (flank) het by die agterlyn ingeval – in die sone net buite die losskakel-kanaal. Hoekom daar?
Die losgemaal wat gevolg het, het al die Bokke se voorspelers aan een kant van die afbreekpunt vasgepen.

Die Junior Bokke se agtsteman, Kebotile Maake, en losskakel, Yaqeen Ahmed, lak Cleverley saam. Dié duikslag word laag uitgevoer, wat strook met die nuwe reëls dat spelers onder die bors gelak moet word.
Duikslae wat laer uitgevoer word, het nie die impak van hoër duikslae nie. Cleverley gebruik dit tot sy voordeel en haal waardevolle meters.
Nog ’n gevolg van laer duisklae is dat die bal vinniger beskikbaar is.
Die gevolg hiervan is dat die ondersteunende spelers die bal sonder moeite by die afbreekpunt kan skoonmaak.

Die Bokke se voorspelers kom nie vinnig genoeg by die afbreekpunt om mededingend te wees of om die bal vir die Aussies stadig te maak nie.
Vergelyk dit met ’n baldraer wat agteruit gelak word en met die spelers wat moet ondersteun wat dan saam terug moet beweeg. Die Bok-voorspelers is steeds besig om by die spel aan te sluit, dus probeer niemand die bal vertraag of steel nie. Dit beteken die Aussies sal vinnig van hierdie afbreekpunt af speel.

Hulle stuur die slot, Will Ross, in. Maar Riley Norton en haker Liam van Wyk maak ’n goeie dubbelpoging en stop hom in sy spore.
Let hieronder daarop dat Van Wyk se knie reeds op die grond is voor hy vir Ross keer. Die wettigheid daarvan word dikwels betwis, maar ons mag dalk meer hiervan sien namate verdedigers probeer om meer slaankrag te genereer onder die nuwe proefreëls vir lakhoogte.
Hierdie dominante hou stel Bok-voorspelers Maake en Vyambwera in staat om om te vou en hulself in posisie te kry vir die volgende Aussie-aanvaller.

Vyambwera gaan laag in, wat veroorsaak dat die Aussie-aanvaller vorentoe val . . . die ideale omstandighede vir die verdedigende span om die bal op die grond te probeer steel. Maake probeer juis dit doen, maar hy word uitgehaal voordat hy enige skade kan aanrig.
Daar is ’n denkskool wat sê lakwerk wat laag is, verhoog die kans om die bal te steel voor ’n losgemaal vorm, maar ek dink nie dit vertel die volle storie nie.
As die lakwerk nie dominant is nie, en die ondersteuningspeler betyds opdaag, het jy eintlik net vir die opposisie ’n vinnige aanvallende afbreekpunt gegee.

Nog iets om raak te sien, is dat Australië sedert die lynstaan geen veld gewen het nie. Hierdie afbreekpunt is steeds net anderkant hul eie 10 m-lyn. Maar dit skeel Australië min, waarvoor hulle hoop, is ’n fout.
En dit is waar dinge vir die Bokke begin skeefloop. Daar was nog een sterk aanval na die kantlyn toe, en nou beweeg Australië vinnig terug in die teenoorgestelde rigting. Die Bokke het steeds vier verdedigers aan die klein kant, al is daar niemand nie. Die stut Jacob Job dra die bal die middelveld in, wat selfs nóg Bok-verdedigers uit die spel kan trek.

Hoe het dit gebeur? Die verdedigers hergroepeer gewoonlik na die klein kant nadat hulle opgestaan het. Maar tensy daardie getalle dopgehou word, en spelers aanhou om die spel te lees en verby die losgemaal omvou, kan jy met ’n oormag aan een kant eindig. En sterk aanvalle die probleem.
Job val aan, en nou is daar sewe Bok-verdedigers vasgevang aan die klein kant. ’n Selfs groter is hoe die vinniger spelers op verdediging versprei is. Jy het agterlynspelers regoor die veld nodig, maar die Bokke se 12, 13 en 11 is almal vas aan die klein kant, wat net die 10, 9 en 14 oor los om die ontwikkelende gevaar te verdedig.
As Job sterk aanval, gaan dit nóg moeiliker wees vir Bok-verdedigers om om te vou en weer in posisie te kom.

Hy word deur Norton en Vyambwera gestop, maar let op die twee Australiërs in die sirkel wat vir Job help. Dit word soms “air cleaning” genoem. Aanvallende spelers blits basies die verdedigende spelers vroeg van die speler met die bal af om te keer dat hulle momentum in die lak genereer. Dit kan ook lei tot vinniger en skoner balaanbieding by die afbreekpunt.

Dit help Job om meer momentum te genereer, en die ekstra meter wat hy wen, is net genoeg om die verdedigers wat probeer omvou na waarheen die spel beweeg, te vertraag.
Nog een aanval. Die Bokke het probleme met getalle, dus het hulle nie die luukse om dubbellakwerk uit te voer nie. Die proefreël vereis ook dat hulle laer moet verdedig, so flank Cannon gaan laag, maar is alleen teen die groot vaskopstut Langi, wat met vaart aankom. Cannon word omgestamp en Langi wen veld, wat weer die Bok-verdedigers vertraag om na die oorkant te probeer omvou.

Ons is amper by die einde, ek belower. Die Aussies kry vinnige bal en speel wyd uit na die kantlyn. Die toekomstige Australiese losskakel Mackay hardloop ’n pragtige klein beweging om die laaste paar Bok-verdedigers uit te haal, en hulle gaan om die buitekant vir ’n briljante drie.

Ek dink die nuwe reëls wat laer duikslae betref, beteken meer veld word deur die baldraer gewen, wat tot probleme vir die verdedigende span kan lei.
Een oplossing hiervoor is dat spanne twee spelers saam duikslae laat uitvoer op ’n speler om die kontaksituasie te oorheers.
Dit laat ook vrae ontstaan oor beter afrigting en beter tegniek. Laer duikslae is tegnies, die aanvallende speler kan systap of bloot die speler afstoot as sy tydsberekening effe af is met die duikslag.
Ek wonder ook oor die geleenthede wat geskep kan word as die speler die bal makliker in die kontaksituasie oor die laer duikslae kan uitgee.
Die Junior Bokke sal dus voor Saterdag se belangrike wedstryd teen Nieu-Seeland groter bewustheid op die veld moet hê en hul kommunikasie op verdediging moet verskerp.
Die drie van die Aussies met net 13 spelers op die veld moes nooit gebeur het nie.
Hulle sal ook die regte speler op die regte plek wil hê – een met spoed.
Geen twyfel bestaan dat die Nieu-Seelanders bewus is van die haakplekke nie.
Met die o. 20-Wêreldtoernooi om die draai, is dit iets waaraan die Junior Bokke daadwerklike aandag moet gee as hulle die titel suksesvol wil verdedig.
