Skoolhandboek-gate: ‘Staatskaping in nuwe gedaante’

Skoolhandboeke.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Staatskaping in ’n nuwe, meer gesofistikeerde gedaante en ’n beperking op onderwysers en skole se keuse om geskikte handboeke te koop, is van die jongste inligting wat uit die departement van onderwys se skoolhandboek-gate begin ontvou.

Die aanloop was al in 2024 en ’n politieke ontleder waarsku teen die politieke slaggate vir die DA-minister betrokke.

Uitgewers en ander rolspelers in die opvoedkundebedryf, wat gister met Die Papier gepraat het, het daarop gewys dit gaan hier oor meer as ’n skielik ge¬stigte maatskappy, Lighthouse Publishers (LP), wat die grootste aandeel van R285 miljoen in ’n R1,6-miljard-tender vir skoolhandboeke vir gr. 1 tot gr. 3 kry.

Volgens ingeligtes is die tenderregulasies in die eerste plek só aangepas dat ’n hoeveelheid aan goedkoper handboeke moet gaan. Dit is heel gerieflik die Lighthouse-portefeulje.

Die departement van basiese onderwys dwing nou die provinsiale onderwysdepartemente verder om meer as ’n derde van hul aankope uit die goedkoper handboeke en dus hoofsaaklik LP se voorraad te doen – die “nuwe dimensie van staats¬kaping”.

Boonop kon onderwysers en skole voorheen uit tot agt handboekopsies kies. Daarvan is uit die opvoedkundige omgewing deur kundiges ontwikkel en voorgestel en ná goedkeuring op die aankopelys geplaas. Skielik het die lys nou net een tot drie verpligte titels.

Artikel-21-skole, die sogenaamde model-C-skole, het nog altyd ’n wyer keuse gehad omdat hulle self kon aankoop. Dit is egter onduidelik of hulle nou ook soos artikel-20-skole – gewone openbare skole – tot die eensydige aanbod gedwing gaan word.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Gallo Images.

Waarskuwing oor onderwysers

Paul Sauer, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gister gewaarsku teen die ondermyning van onderwysers se outonomie om self by die keuse van handboeke, wat hulle as geskik vir die leerplan beskou, betrokke te wees.

Volgens Sauer gaan dit bydra tot die ernstige verskraling van gehalte-onderwys. Die onderwysstelsel is reeds onder druk weens te min geld en onderwysers. Hy het dit verwelkom dat Siviwe Gwarube, die minister van onderwys, vinnig beweeg het om die kwessie deur die tesourie te laat ondersoek.

LEES | Regsoptrede hang oor tenderskok met skoolhandboeke

Hannes Grobler, ’n onafhanklike ontwikkelaar van opvoedkundige materiaal vir skole, meen die “drakoniese manipulasie” van die betrokke tender het ’n vernietigende uitwerking op die hele ekostelsel van gehalte-onderwys.

Sy vennoot, Edwin Solomon, wil weet watter gehaltebeheer oor LP se sogenaamde goedkoper materiaal is en of dit al ooit bestaan.

Dit gaan gehalte-ontwikkelaars en uitgewers sleg tref, asook kinders in die grondslagfase, wat volgens navorsing wanneer hulle in gr. 4 kom, steeds nie kan lees of skryf nie, meen hy.

Jaco Deacon, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaans Skole.
Jaco Deacon, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaans Skole. Foto: Facebook.

Begin al in 2024

Die skoolhandboek-gate het reeds in 2024 begin toe die departement van basiese onderwys (DBO) ’n uitnodiging aan uitgewers gerig het om leer- en onderrigondersteuningsmateriaal (LTSM) vir die Nasionale Katalogus vir die Grondslagfase (grade 1-3) in te dien.

Die formele indieningstydperk het – volgens een uitgewer – op 5 Julie 2024 gesluit. Die materiaal is daarna deur die DBO geëvalueer en uitgewers is op 6 Maart 2025 in kennis gestel dat hul boeke “voorlopig goedgekeur” is, maar dat sekere hersienings gedoen moet word.

Sommige uitgewers is gevra om bykomende titels te skep. Die sperdatum hiervoor was in Augustus 2025.

Twee uitgewers het aan Die Papier bevestig dat die hersiene en bykomende materiaal onder groot tydsdruk geskep moes word.

Vyf eksemplare van elke titel moes aan die DBO verskaf word vir die volgende ronde van evaluering. Al hierdie koste moes deur die uitgewers gedra word – in party gevalle is miljoene rande hieraan bestee.

Die DBO het uiteindelik eers op 8 April vanjaar ’n lys goedgekeurde boeke en uitgewers bekendgemaak – byna twee jaar nadat vir die voorleggings gevra is.

Tot hul skok moes hulle toe uitvind dat geen van hul materiaal aanvaar is nie, maar dat Lighthouse Publishers, ’n uitgewer wat skynbaar net op papier bestaan, 1 707 van die titels sou verskaf.

Jaco Deacon, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaans Skole, beklemtoon dat alles ook gaan oor waarde vir geld.

Volgens School Realities 2025 is altesaam 3 745 277 leerders in gr. 1 tot 3. Indien die tenderwaarde R1,6 miljard is, kom dit neer op ongeveer R427 per leerder vir handboeke.

Dit laat steeds vrae ontstaan oor die algehele waarde wat aan die stelsel gelewer word.

Die DA se Siviwe Gwarube (links), Solly Msimanga (middel) en John Steenhuisen.
Die DA se Siviwe Gwarube (links), Solly Msimanga (middel) en John Steenhuisen. Foto: AFP.

DA-ministers se probleem

Roland Henwood, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria, meen die sage wys dat die DA se strewe na goeie regering in die kabinet toenemend uitdagings gaan bied.

Dit is ’n hoofsaaklik amptenary uit ontplooide kaders en politici wat histories openlik pro-ANC en anti-DA gesind is. Hy wys daarop dat Gwarube al in die openbaar gekla het sy word deur sommige amptenare in haar departement ondermyn.

Dit is duidelik dat hulle hul eie belang en partybelang eerder as die land se belange dien.

Pres. Cyril Ramaphosa gee geen steun aan ministers, veral nie uit die DA, nie. Die ministers is aanspreeklik vir hul departemente, maar is blootgestel en sal uiters korrek en sterk moet optree indien hulle hierdie aanslae wil oorleef.

  • Lees die volledige berig oor dié kwessie in die splinternuwe uitgawe van Die Papier, wat vandag op die rakke is.
  • Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
  • ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie