Swys se Bok-vroue rég vir die VSA!

Micke Günter. Foto: Instagram/mickegunter
Micke Günter. Foto: Instagram/mickegunter

‘n Baie tevrede Swys de Bruin, hoofafrigter van die Springbok-vrouespan, het Saterdag ‘n opwindende en ervare groep van 30 spelers aangewys vir die twee toetswedstryde teen die VSA vroeg volgende maand in Johannesburg en Pretoria.

Die toetse, wat op dieselfde dae as die Springbokke se eerste twee wedstryde in die Nasiesbekertoernooi plaasvind, word op 4 Julie by Ellis Park en op 11 Julie by Loftus beslis.

Ten spyte van enkele beserings en spelers wat eers dié week ná hul verpligte rusperiode na afloop van die HSBC SVNS aangesluit het, is De Bruin tevrede met die groep wat Sondag na Johannesburg vertrek.

“Hierdie groep het sedert verlede jaar se Wêreldbeker nie saam gespeel nie, maar toe ons in kamp bymekaargekom het, het dit nie lank geneem voordat ons weer dieselfde samehorigheid gevind het nie,” het De Bruin gesê.

“Die VSA het onlangs in die Pacific Four-reeks teen Nieu-Seeland, Australië en Kanada gespeel en sal dus met goeie momentum na Suid-Afrika kom. Ons fokus was egter die afgelope twee weke op onsself, en ek is baie tevrede met wat ons bereik het.”

Altesaam 22 spelers in die groep was deel van die 2025 Wêreldbeker-span wat geskiedenis gemaak het deur die kwarteindronde te haal. Die ander agt sluit uitblinkers van die onlangse Rugby Africa Women’s Cup in, asook voormalige internasionale spelers wat ná sterk vertonings in die Pick n Pay Vroue-Premierliga na die nasionale span teruggeroep is.

Danelle Lochner (Harlequins) en Micke Günter (Leicester Tigers) sluit ook weer by die span aan ná hul seisoene in Engeland.

De Bruin het sy assistentafrigters, Franzel September en Laurian Johannes-Haupt, asook die ondersteuningspan geloof vir hul werk tydens die kamp.

“Ons het nog ’n paar aspekte waaraan ons volgende week in Johannesburg sal werk, maar vir nou is ons presies waar ons wou wees,” het hy gesê.

Beserings en nuwe kaptein

Sewe spelers is weens beserings en terugkeer-na-spel-protokolle nie vir oorweging beskikbaar nie. Hulle is Nadine Roos, Sinazo Mcatshulwa, Lindelwa Gwala, Aseza Hele, Donelle Snyders, Naima Hlatshwayo en Chumisa Qawe.

Ná die uittrede van die voormalige kaptein Nolusindiso Booi verlede jaar, het De Bruin gesê die nuwe kaptein sal saam met die aankondiging van die span vir die eerste toets volgende week bekend gemaak word.

Die span

Stutte

  • Sanelisiwe Charlie (Isuzu Bulle Daisies)
  • Xoliswa Khuzwayo (Goue Leeus-vroue)
  • Yonela Ngxingolo (Isuzu Bulle Daisies)
  • Thandile Mazwi (DHL WP)
  • Nombuyekezo Mdliki (Grens-vroue)
  • Babalwa Latsha (DHL WP)

Hakers

  • Anushka Groenewald (DHL WP)
  • Micke Günter (Leicester Tigers)

Slotte

  • Nomsa Mokwai (DHL WP)
  • Danelle Lochner (Harlequins-vroue)
  • Vainah Ubisi (Isuzu Bulle Daisies)
  • Anathi Qolo (Isuzu Bulle Daisies)

Losvoorspelers en nutsvoorspelers

  • Sizophila Solontsi (Isuzu Bulle Daisies)
  • Sinelitha Noxeke (Isuzu Bulle Daisies)
  • Lerato Makua (Isuzu Bulle Daisies)
  • Faith Tshauke (Isuzu Bulle Daisies)
  • Catha Jacobs (Goue Leeus-vroue)
  • Logan Welman (DHL WP)

Skrumskakels

  • Anacadia Minnaar (OP Queens)
  • Felicia Jacobs (Sanlam Boland Dames)
  • Unam Tose (Isuzu Bulle Daisies)

Losskakels

  • Libbie Janse van Rensburg (Isuzu Bullse Daisies)
  • Eloise Webb (Sanlam Boland Dames)

Senters

  • Aphiwe Ngwevu (Grens-vroue)
  • Ayanda Malinga (Isuzu Bulle Daisies)

Agterspelers en nutsagterspelers

  • Maceala Samboya (Sanlam Boland Dames)
  • Alichia Arries (DHL WP)
  • Byrhandré Dolf (Isuzu Bulle Daisies)
  • Jakkie Cilliers (Isuzu Bulle Daisies)
  • Shaunique Alexander (Isuzu Bulle Daisies)

Kliek hier om jou kaartjies te koop


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie