VRK: Stormers buit darem bonuspunt uit teleurstellende 22-16 verloor teen Cardiff

Losskakel Sacha Feinburg-Mngomezulu tydens die Stormers se wedstryd teen die Lions.
Losskakel Sacha Feinburg-Mngomezulu tydens die Stormers se wedstryd teen die Lions. FOTO: Gallo Images/Sydney Seshibedi.

Dis ’n wedstryd wat hulle kon gewen het . . . wel, móés gewen het.

Die Stormers se verloor teen Cardiff met die eindtelling van 22-16, was ’n teleurstellende einde van hul groepwedstryde in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap.

Die Stormers sou hul heel beste poging wou gee om bo aan die puntelys te eindig, maar sal nou met die tweede plek tevrede moet wees. Nie opsigself sleg nie, maar hul verloor het ook skade vir die ander SA spanne veroorsaak.

LEES | SA Rugby kan moontlik die Europese Kampioenebeker los om voos spelers eindelik ’n blaaskans te gee

Hoewel daar nog vyf wedstryde môre gespeel moet word, het Cardiff nou sommer oor die Lions en Bulls gespring om vierde op die puntelys te wees.

Dus is die Bulls se wedstryd teen Benetton én die Lions se wedstryd teen Munster van kardinale belang. Dit is veral die Lions (tans in 7de plek), wat Munster (tans in 9de plek) in Ierland wil klop om ’n beter plek in die topagt te verseker.

Glasgow Warriors se sege van 26-22 oor Ulster vanaand, het die laasgenoemde met te min punte gelaat om van hul agtste plek op die puntelys, die Lions verby te neem. Dus sal die Lions vir die eerste keer in die toernooi se geskiedenis, wel die uitkloprondes haal.

Wedstryde vir Saterdag, 15 Mei

13:45 Sharks t. Zebre Parma

16:00 Bulls t. Benetton

20:45 Munster t. Lions


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie