Die Glasgow Warriors se wedstryd teen die Comeback Kid van hierdie jaar se Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen, Connacht, moet nie vlak gekyk word nie. Ja, dit is dalk die eerste van die vier kwarteindrondes wat gespeel word, en dit is die enigste wedstryd waarin ’n SA span nie speel nie. Maar die SA spanne sal hoop dat Connacht vir Glasgow in Skotland kan oorrompel.
Gebeur dit, sal ’n paar van die halfeindwedstryde en selfs heel moontlik die einstryd op tuisbodem kan plaasvind.
Moet Suid-Afrika dus soos een man, onverpoos, agter Connacht staan vanaand? Nie so vinnig nie.
Beide Glasgow Warriors se afrigter en kaptein is Suid-Afrikaners: Franco Smith en vleuel Kyle Steyn.

Die Glasgow Warriors en Leinster is gunstelinge om die halfeindstryde aan te bied indien hulle dié naweek wen nadat hulle in die top twee op die punteleer geëindig het, maar die Stormers en Bulls sal hul wedstryde fyn dophou, aangesien enige glipse deur dié spanne kan beteken dat die Kaapstaders en Pretoria-spanne tuis-halfeindstryde beklink indien die twee Suid-Afrikaanse spanne as wenners uit die stryd tree.
Dit alles beloof om vir ’n opwindende openingsronde van die uitspeelwedstryde te sorg.

En dit bly maar moeilik om nié vir die buitestaanders te skree nie. Ná die eerste 10 wedstryde van hierdie seisoen was 14de uit 16 spanne op die puntelys. Nou is hulle bo groot name soos die Sharks, Ulster en Edinburgh in die topagt.
Die wedstryd skop om 20:45 af.
