Demokraties georiënteerde burgers verwag, en betaal belasting vir ’n onkreukbare polisiemag, wat met hart en siel die veiligheid van ons land se mense op die hart dra.
Nou hoor ons tot groot ontsteltenis dat die hele diens oor die muur is, en dalk selfs reddeloos is. Vele generaals moet voor Madlanga verskyn. Selfs die kommissaris!
Oënskynlik die oortjies van ’n reuse-seekoei.
Die vraag wat ’n mens dan soos ’n hamer tussen die oë tref is, as die polisie, wat veronderstel is om die bastion van diens en integriteit te wees, misluk, wat is te verwagte van die ander staatsdepartemente?
’n Mens kan maar net wonder, en asem ophou, vir nog dosyne Madlanga-kommissies wat mag kom.
Huiwer ons nie op die rand van ’n mislukte staat nie?
Is dit nie maar waarvoor die apartheidsargitekte, hoe totaal onuitvoerbaar, en onregverdig hul plan was, hulle voor bang was nie?
Laastens wonder ’n mens wat die oplossing is. Wat my hoop gee, is dr. Leon Schreiber se regruk van binnelandse sake.
Dit wys wat gedoen kan word.
- Kobus Terblanche, Middelburg
Nóg ’n brief: Negatiwiteit en woede is opvallend
Ilse Salzwedel vra onlangs tereg: Waarom is almal so kwaad? Sy verwys onder meer na rooigesig- emoji’s en woedende uitsprake en sê “sosiale media se algoritmes is boonop só ingestel dat dit ons nog verder in ideologiese loopgrawe injaag”.
In die kringe waarin ek beweeg, is dit opvallend hoeveel negatiwiteit en selfs woede losgelaat word.
En laat ’n padbuffel net grense van ordentlikheid en hoflikheid oorskry, word hy die ergste toegewens.
Ons lê op ons toeter en gooi hande desperaat in die lug, terwyl die man met sy agtsilinder vrede met ander padverbruikers het en voortjaag.
Selfs tussen ons familie en vriende beaam ons die “ag, ja” en die “kyk nou net daar” en deel kopskuddend die kwaai uitsprake oor die toestand in ons land en al die korrupsie en magmisbruik van die politici.
En elke keer wil ons opnuut emigreer.
Positiewe lewensingesteldheid behoort die dryfkrag van ons geloof in die Skepper te wees.
Hy daag ons uit om ’n verskil te maak daar waar Hy ons geplaas het.
Ons is, te midde van al die slegte nuus, immers die draer van die goeie nuus.
- Culus Hamman, Pretoria
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
