Ek het Hardus Mynhardt van Mosselbaai se nostalgie-artikel in Dink, “Tjooeee, tjooeeee . . . Die herinnerings stoom voort”, vreeslik geniet.
Hy het my laat onthou van kleintyd se treinry perfek saamgevat. As spoorweggesin het ons in die Junie/Julie-skoolvakansie van Touwsrivier na Pretoria en partykeer ook Thabazimbi toe gereis.
Nadat my pa in 1963 aan diens verongeluk het, het my ma die tradisie voortgesit om met ons drie kinders daarheen te reis.
Een keer toe sy weer die bedding boy wou help om die beddegoed vinnig genoeg oop te rol, het die bank op een van haar groottone geval.
Ek wonder steeds of daar ooit ’n Afrikaanse benaming vir bedding boy is?
In 2017, toe ek langs my ma se sterfbed gestaan het, het haar voete onder die lakens uitgesteek. Ek het vir oulaas gekyk na die swart nael van haar “railway”-toon, soos sy dit altyd genoem het.
Lank lewe Die Papier en sy mooi stories.
- Lana van Taak, Kabegapark, Gqeberha
