Die drie Suid-Afrikaanse spanne wat die naweek hul aanslag op die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-titel begin, gaan veral swaar steun op hul losskakels wat onder die top-vyf puntemakers in die kompetisie geëindig het.
Sacha Feinberg-Mngomezulu van die Stormers het ná ’n stadige begin bo-aan die lys geëindig met 158 punte, veral aangedryf deur ’n klompie puik besoeke agter die doellyn.
Chris Smith was die Lions se groot deurlopende faktor die seisoen met 154 punte.
Handré Pollard, wat aan die begin van die seisoen buite karakter gesukkel het pale toe, het ingehaal om vyfde te wees met 97 punte.
Die Bulls glo hulle het vanjaar ’n goeie kans met hul afskop Saterdag om 13:00 teen Munster op Loftus Versveld.
Nie net is Munster nie meer die krag van twee, drie jaar gelede nie, die beseringspook het erg gemaai onder verskeie eerstekeuse-spelers.
Maar pleks van vroeg gaan slaap vanaand, sal die Bulls wil kyk na Glasgow Warriors se wedstryd teen die Comeback Kid van die kompetisie, Connacht. Die Skotte is wel nommer een, maar Connacht het vriend en vyand verras deur uit die 14de posisie terug te veg en verskeie topspanne plat te trek.
Kry hulle dit weer reg, kan die Bulls hulle vir ’n halfeindstryd op Loftus ontvang, eerder as om Skotland toe te reis.

Volgens Marcell Coetzee, Bulls-kaptein, put hulle veral vertroue “uit die ervaring van Springbokke soos Pollard en Willie le Roux”. Ook die Springbokslot Ruan Nortjé, wat sy seisoen by die Ligbloues afsluit weens ’n Japanse klubkontrak, behoort ’n reuse-bydrae te maak.
Die Stormers sal graag die bordjies wil verhang nadat hulle in die vorige wedstryd oorsee teen Cardiff verloor het.
Heeltemal onnodig en teen die ritme van die wedstryd in.

In Kaapstad sal hulle volgens John Dobson, afrigter van die Stormers, veral op een statistiek fokus: “Ons span is tweede op die kompetisielys vir die meeste besoeke aan teenstanders se kwartgebied, maar net negende wat betref hoeveel van die besoeke ons in punte omskep.” Kort gestel, die Stormers is reeds daar, hulle moet net druk.
Die Lions, in hul eerste VRK-uitspeelronde, trek die swaarste onder beroepwedders.
Min glo hulle staan enige kans teen Leinster.
Hulle het ’n goeie loesing in hul laaste wedstryd teen ’n B-span van die Iere gekry. Intussen is Leinster se sterbelaaide span egter erg deur Bourdeaux in die Kampioenebeker-eindstryd vermorsel.
Die Lions-afrigter Ivan van Rooyen dui dapper aan dat hulle daardie wedstryd in detail bestudeer en ’n plan het. Kry hulle die byna onmoontlike reg, sal die roete na die eindstryd vir al drie SA spanne heelwat makliker wees.
- Coetzee is self by rugby betrokke en skryf onder ’n skuilnaam.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
VRK-kwarteindstryde
Vrydag
20:40 Glasgow Warriors t. Connacht
Saterdag
12:55 Bulls t. Munster
15:25 Stormers t. Cardiff
20:55 Leinster t. Lions
