Word ’n Woordmeester en wen

Taal.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Wys jy is meer as net ’n taalfundi en kenner van Afrikaans – jy kan die kroon van Woordmeester dra.

Akademia se Woordmeesters-taalkompetisie in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) nooi taalliefhebbers om hul taalvernuf op die proef te stel in dié kompetisie wat eersdaags begin. Vanjaar se trotse mediavennoot is Die Papier.

Woordmeesters is ’n taalervaring wat deelnemers uitdaag om die fynere samestelling van Afrikaans te herontdek. Hierdie inisiatief vind jaarliks plaas ter viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus.

“Taal is soveel meer as net gereedskap vir kommunikasie,” sê Gustaf Tempelhoff, waarnemende uitvoerende direkteur van VivA oor hul betrokkenheid. Mareli Swanepoel, bestuur­der van institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verduidelik dat deelname aan die Woordmeesters-taalkompetisie nie net verbeterde taalbegrip en -ge­bruik aanwakker nie, maar ook help om Afrikaans aktief as onderrigtaal in stand te hou.

Barnard Beukman, redakteur, sê Die Papier ondersteun graag skeppende projekte. “Geleenthede vir opwindende interaksie met die taal, soos die Woordmeesters-taalkompetisie, slyp nie net Afrikaanssprekendes se taalvaardigheid nie, maar help die taal ontwikkel.”

Meer oor die kompetisie

Die kompetisie is oop vir drie groepe: skoolleerders van gr. 10 tot 12, studente van enige hoëronderwysinstelling, en lede van die publiek. Dit ontvou oor ’n periode van ‘n maand. Deelnemers moet registreer, waarna hulle weekliks ’n aanlyn taaltoets voltooi. Elke toets word voorafgegaan deur ’n taalwenk wat op Akademia se Facebook-blad en Die Papier se webwerf en sosialemediaplatforms gedeel word. Die eerste taalwenk verskyn op Maandag 1 Junie, met die eerste taaltoets wat op Vrydag 5 Junie open.

As bonus word ’n ekstra taalwenk vir lesers van Die Papier gegee in Vrydae se uitgawe.

Alle aanlyn taaltoetse sluit om middernag op 3 Julie, waarna die veld vernou sal word tot die beste Woordmeester-finaliste.

Op 10 Julie word die topdriefinaliste in elke kategorie aangekondig.

Die finale ronde van Woordmeesters-2026 word op Afrikaanse Taaldag op Akademia se Leriba-kampus in Pretoria gehou, wat onder meer ’n blitsvasvra sal behels. In elke kategorie stap die wenner met pryse weg.

In die skool- en studentekategorieë kan deelnemers tot R3 500 wen, terwyl die wenner in die publieke kategorie met R7 500 beloon word.

Tweede en derde plekke ontvang ook kontant- en ander bederfpryse.

Besoek https://akademia.ac.za/woordmeesters/ vir meer inligting.

Moenie volgende week se Die Papier misloop nie – jy sal jou eerste wenk kry om jou te help met Vrydag 5 Junie se toets!


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie