Dit is nodig dat die land weet wat die destydse strafregtelike ondersoek deur die Valke teen Dina Pule, die ANC-politikus en nuwe minister van maatskaplike ontwikkeling, opgelewer het, indien enigiets.
Die ondersoek, wat deur die parlement na die Valke verwys is, het asof in die niet verdwyn. Nou verklaar die ANC heel gerieflik sy is deur die organisasie gerehabiliteer vir haar destydse onetiese gedrag as kabinetslid. Dit het onder meer behels dat sy staatsgeld na haar eie romantiese kys gekanaliseer het. Sy is uit die kabinet geskop, deur die parlement gestraf en die saak is vir vervolging verwys.
“Almal verdien ’n tweede kans,” voer die ANC nou hoogheilig oor Pule aan. Ongetwyfeld ja, maar bepaald nie op die misdaadtoneel van die oortreding nie. En in haar geval nie weer in die kabinet waar sy met staatsgeld werk nie.
Die vermiste skakel in die hele sage is egter Pule se dossier by die Valke en waarom klaarblyklik geen aanbeveling vir vervolging aan die nasionale vervolgingsgesag gemaak is nie. Indien dit is omdat hulle gereken het die staat het nie ’n sterk genoeg of enige saak nie, sal dit tot haar voordeel strek dat die land dit weet. Of dit kan gronde vir hersiening bied indien iemand meen dit is nodig. Dalk wys dit die staat het genoeg rede vir vervolging gehad, maar dit is bloot nie verder gevoer nie.
Hoe dit ook al sy – dit is nie bloot net ’n reg nie, maar noodsaaklik dat die kwessie in die ope kom en onbetwisbaar in openbare belang.
Die Valke reken hulle kan medianavrae oor wat van die saak geword het, bloot ignoreer. Daarom was Jana Marx, Die Papier se politieke redakteur, genoodsaak om ’n Paia-aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Inligting by die Valke in te dien om die dokumente in die hande te kry. Hopelik besin hulle en stel inligting beskikbaar eerder as om dit toe te smeer.
Intussen gaan maak pres. Cyril Ramaphosa toe weer so – dié keer met die aanstelling van die ewe omstrede Ayanda Dlodlo as Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk. Aspekte van haar hantering van sake as ’n voormalig minister van staatsveiligheid en ook toe sy minister van staatsdiens en administrasie was, was onder die soeklig by die Zondo-kommissie na staatskaping. Sedertdien het sy verstommend in die raad van die Wêreldbank gedien.
Die sogenaamde Zuma-onluste het ten tyde van haar kabinetstermyn by staatsveiligheid in KwaZulu-Natal uitgebreek – iets wat die land se veiligheidstrukture onkant betrap het. Waarom haar enigsins weer betrek? Bestaan geen ander verdienstelike politici of diplomate vir die pos nie?
Ramaphosa se nuwe aptyt om korruptes aan te stel, kan net weens een van twee redes wees – of sy sin van wat korrup is, is baie meer verdag as wat tot nou vermoed is, of sy faksie het ander, bevraagtekenbare faksies van die ANC nodig om beheer oor die organisasie te hou. Hyself het tot nou nog geswyg oor die storm om Pule se kop. Hy kom ook weg met ’n al hoe meer halfhartige reaksie deur ’n afgestompte openbare mening.
Die Papier gaan voort om die vrae te vra.
