Augustus gaan die lewe in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, behoorlik op sy kop draai wanneer ongemaklike vrae oor familie, identiteit en lojaliteit al hoe moeiliker raak om te ontduik.
’n Gesin word deur ’n ontstellende moontlikheid uitmekaar geruk, jong liefde maak ’n gevaarlike draai in die kuberruim en trouklokkies dreig om ou wonde diep oop te kloof.
Intussen sorg nuwe gesigte, professionele terugslae en planne wat skeefloop vir nóg drama.
Kykers moet veral uitkyk vir dié ses storielyne in Augustus:
1. Kate se familiekrisis verdiep

Kate (Annelisa Weiland) se soeke na antwoorde neem ’n ingrypende wending wanneer Lendré (Luan Jacobs) al hoe meer deel van haar lewe word. Terwyl sy wil glo dat sy uiteindelik die ontbrekende stuk van haar verlede gevind het, kan Riaan (Daniel Coetzee) nie daarin slaag om sy wantroue af te skud nie.

Wanneer daar geraamtes in Lendré se kas begin ratel, moet Riaan nie net sy plek in Kate se huis bevraagteken nie, maar ook alles wat hy nog altyd oor homself en sy familie geglo het.

En as Nazeem (Irvine van der Merwe) boonop in Lendré se verlede begin snuffel, word die vrae net meer. Is Lendré werklik wie Kate hoop hy is? En wat gaan die waarheid hierdie familie uiteindelik kos?
2. Zahra se jong liefde word ’n kuber-nagmerrie

Wat aanvanklik as jaloesie en ’n gevaarlike spel tussen Zahra (Caitlyn Haywood), Carlo (Jadon Booysen) en Fabian (Logan Cornelius) begin, neem dit ’n donker wending wanneer ’n intieme foto van Zahra op ’n geselsgroep versprei word.

Zahra hou vol dat die foto vals is, maar Carlo beland gou in die spervuur en selfs die polisie begin vrae vra. Lee-Ann (Portia Joel) staan by haar seun, terwyl die Samsodiens woedend is en Zahra desperaat probeer om haar stem te laat hoor.
Terwyl die tieners na bewyse soek, raak die gevolge al hoe ernstiger. Wie sit werklik agter die foto – en kan die skade aan hul reputasie en verhouding ooit herstel word?
3. Trouklokkies of bloedrooi waarskuwingsklokke?

Die breuk tussen pa en dogter, Mike (Anrich Herbst) en Frankie (Mienke Ehlers) verdiep wanneer nie een van hulle bereid is om eerste kop te gee nie. Te midde van dié familiekonflik neem Frankie en Justin (Eden Classens) ’n skielike en lewensveranderende besluit oor sy eie toekoms met Frankie.
Justin probeer die vrede tussen pa en dogter herstel, maar Mike se trots en Frankie se seerkry staan vierkant in die pad. Intussen laat Riaan se eie familiekrisis emosies opvlam wat sake nóg ingewikkelder kan maak.
Kan Frankie met haar lewe voortgaan sonder om haar verhouding met haar pa – óf iemand anders se hart – onherstelbaar te beskadig?
4. Amanda moet haarself herontdek

Amanda (Lindie Strydom) se professionele toekoms word skielik onseker wanneer sy ontstellende nuus oor haar boeke kry. ’n Onverwagse aanbod van Radio Dassie bied moontlik ’n nuwe begin, maar aanvanklik beskou sy dit eerder as ’n belediging as ’n geleentheid.
Mike het intussen sy eie planne vir die radiogolwe en dit lei tot ’n onverwagse gebaar en ’n paar misverstande. Sal Amanda tóg wel haar trots kan sluk en ’n nuwe stem vind, of is dit te laat om haarself opnuut uit te vind?
5. Zoë speel met vuur wanneer ’n nuwe man haar oog vang

Die nuwe argitek by JPD, Pieter (Dean Olivier) trek dadelik Zoë (Lauren Joseph) se aandag. Dit bring egter ’n groot komplikasie mee, en die vraag is of Zoë haar vingers gaan verbrand.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
