Meer as twee en ’n half jaar nadat die sesjarige Joshlin Smith spoorloos uit die Middelpost- informele nedersetting in Saldanha verdwyn het, het ’n Kaapstad-gebaseerde aktivis ’n beroep op die polisie en gemeenskap gedoen om saam te werk en moontlike nuwe leidrade deeglik te ondersoek.
Ds. June Dolley-Major het Donderdag tydens ’n mediasessie besonderhede bekend gemaak oor verskeie items wat volgens haar tydens soektogte in die duine gevind en vir moontlike forensiese ontleding voorgelê is.
Joshlin is op Maandag 19 Februarie 2024 by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld. Sy is daardie oggend laas in Middelpos, langs Diazville, gesien.
Volgens Dolley-Major het soekspanne herhaaldelik na dieselfde gebied in die duine teruggekeer nadat verskeie items daar gevind is.
Dit sluit onder meer ’n trui, ’n mans-T-hemp wat volgens haar aan Boeta behoort, ’n duvet-oortreksel en ’n houtstomp in wat moontlik van Kelly Smith se vloerplank afkomstig is.
Sy sê sommige van die items het tekens getoon wat soos bloedspatsels gelyk het.
“Ek het rekord gehou. Ek het aangeteken wat gevind is, die datum waarop dit gevind is, wie dit gevind het en wie dit geverifieer het,” het Dolley-Major gesê.
Sy sê sommige items is ongeveer kniediep onder die grond gevind, met groot betonblokke bo-op.

DNA-leidrade
Dolley-Major het ook verwys na ’n klein stukkie geel lint wat dae voor die aanvang van die verhoor in Maart 2025 gevind is.
Volgens haar het Joshlin se skool geel linte gebruik en is die lint aan die forensiese ondersoeker Danie Krugel oorhandig.
“Hy het Joshlin se DNA daarop opgespoor. Die polisie het die lint,” het sy gesê.
Sy beweer verder dat ’n stuk spons- of matrasmateriaal waarop daar tekens van bloed was, ook vir Joshlin se DNA getoets is en dat haar DNA daarop opgespoor is.
Volgens Dolley-Major het ’n opgeleide kadawerhond reguit na die materiaal beweeg toe dit in ’n openbare area geplaas is.
Sy het egter beklemtoon dat nie alle items wat gevind is, positief vir Joshlin se DNA getoets het nie.
“Op baie van die items is Joshlin se DNA nie opgespoor nie. Ek wil dit duidelik stel,” het sy gesê.
Nog items, waaronder vroueklere en drie plastieksakke, is volgens haar ook gevind en getoets. Dolley-Major sê twee van die sakke het positief vir Joshlin se DNA getoets.
Sy sê die items is op 26 Junie 2026 deur twee polisielede by Krugel afgehaal nadat toetse in hul teenwoordigheid uitgevoer is.
