Die Lions sal hul hare vanoggend uit hul kop trek dat hulle met ongeveer ’n tiental verlore kanse – sommige reeds oor die doellyn – met 24-17 teen Munster verloor het in die laaste Verenigde Rugbykampioenskap-ligawedstrydronde.
Boonop word dié wedstryd nou met aanlyn aantygings en diskoers oorheers van ’n moontlik voorval waar ’n Lions-speler glo in een van die Munster-manne se gesig gespoeg het.
Ja, die Lions is weliswaar vir die eerste keer ooit in die uitspeelrondes, maar moet nou teen die gevreesde Leinster in Dublin gaan speel. Juis die span wat hulle daar verlede naweek afgeransel het.
Boonop het dit ten tyde van die wedstryd gelyk of senter Henco van Wyk ernstig beseer is. Om nie eers te praat van die speler wat moontlik uitgewys kan word vir die spoeg-insident nie.
In die 61ste minuut het die nuwe haker Diarmuid Barron na die skeidsregter, Andrea Piardi, gegaan en gesê dat ’n Lions-speler in sy gesig gespoeg het.
Lions-afrigter, Ivan van Rooyen het ná die wedstryd aan verslaggewers gesê hy kan nie sien dat ’n speler doelbewus so iets sou doen nie.
“Wel, ons is nie bewus daarvan nie. Ons het dit nie gesien nie. Dit is nie in ons aard om dit te doen nie,” het Van Rooyen gesê.
“Ek kan nie sien dat een van die spelers dit doelbewus doen nie.
“Dit gaan dus nie daaroor om dit onder die mat in te vee nie. As ons enigiets kan vind of sien, dink ek sal ons dit hanteer, maar dit is nie deel van ons aard nie.”
Munster-afrigter, Clayton McMillan, het egter gesê sy span sou nie so ’n voorval opper as hulle nie gedink het iets het gebeur nie, en bygevoeg dat Barron iets moes gevoel of gesien het.
“Luister, hy [Barron] is al lank betrokke, en ons is nie ’n span wat simpel speletjies speel nie, so jy kan aanneem hy het gevoel, of hy het gesien wat hy gesien het,” het McMillan gesê.
“Wat Diarmuid se integriteit betref, dit word nie bevraagteken nie.”
Ten spyte van die insident, het die Lions al harder begin veg om die wedstryd in die laaste 20 minute te wen. As twee van hul pogings om die bal te druk, nie deur ’n begeesterde Munster opgehou nie, was dit eerder teen die Bulls op Loftus.
Die Bulls het vierde geëindig en wag nou vir Munster in Pretoria in. Dit na ’n stewige 45 – 19 oorwinning gister oor Benetton.
Die Stormers het ook ’n wedstryd weggooi, met ’n onverwagse 22-16 nederlaag teen Cardiff.
Maar kry in hul derde plek ’n geleentheid om hulle te wreek. Hul kwarteindstryd is teen die einste Cardiff in Kaapstad.
Die 4 kwarteindrondes met drie SA spanne is:
Vrydag, 29 Mei
19:45 Glasgow t. Connacht
Saterdag, 30 Mei
12:00 Bulls t. Munster
14:30 Stormers t. Cardiff
20:00 Leinster t. Lions
