’n Oortuigende bonuspunt-sege ’n week ná hulle gestruikel het, is presies hoe die Stormers hulself boaan die Verenigde Rugbykampioenskap-puntelys sou wou anker.
En dít terwyl hulle die voormalige puntelys-leiers én een van die vorige seisoene se kampioene, Glasgow Warriors, behoorlik met 48-12 in Kaapstad gestormloop het.
Ntuthuko Mchunu, wat twee drieë gedruk het, is as speler van die wedstryd aangewys.
“Die hele week het ons gesê ons wil op onsself fokus. Wat verlede week gebeur het, het natuurlik gebeur, en ons wou net ’n stelling maak, meer vir onsself as vir enigiemand anders,” het Mchunu ná die wedstryd verduidelik.
“Ek is baie trots dat die manne vandag uitgegaan het, sterk begin en sterk geëindig het, en dit is een van die dinge waarop ons deur die seisoen wil bly hamer,” het hy gesê.
Die Stormers sal nou hul laaste twee groepwedstryde in Ierland speel – eers teen Ulster en dan teen Cardiff – voordat die uitkloprondes begin.
